ToekomsVenster: Verafsku wat sleg is

hande-wat-help-aanraking

(Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. – Rom. 12:10

Ons leef in ʼn tyd waarin die kwaad genormaliseer word. Mense kom met moord weg en ons vind verskonings daarvoor. Uiteraard moet ons sensitiwiteit hê en ontwikkel vir kontekste en menslike gebrokenheid.

Ons is almal op reis en dit is nog nie voltooi nie. Eers eendag, by die wederkoms sal ons volmaak wees soos Hy is.

Tog mag ons nie allerhande verskonings uitdink vir dit wat verkeerd is in ons eie lewens en die van ander nie. Geen omstandighede of faktore kan die oortreding van God se gebod regverdig nie.

Die tien gebooie is steeds betekenisvol vir ons lewens. Niks daarvan is opgehef nie, inteendeel, dit staan selfs net sterker in vandag se tyd.

Jesus het gekom om die wet sy volle betekenis te gee, sê die Woord. Wanneer mense redeneer dat ons nie meer onder die wet is nie, vra ek dikwels watter een of meer van die gebooie hulle voel maar uitgelaat kan word.

Dit is egter nie net die verbod wat belangrik is nie maar ook die gebod. Daar is iets wat verbied word en daar is die korresponderende korrekte optrede wat gebied word.

As daar staan dat jy nie mag steel nie beteken dit ook dat jy ander se reg moet help beskerm, jou moet beywer vir regverdige en eerlike samelewing en selfs dat jy deur harde werk in jou eie lewensonderhoud moet voorsien.

Paulus sê “verafsku” wat sleg is. Dit is ʼn baie sterk woord. Dit beteken om ʼn afkeur te hê in die verkeerde, in jou eie en ook in ander mense se lewens. Dit beteken nie dat jy beterweterig rondloop en almal op hul foute wys nie. Dit beteken wel dat jy ʼn voorbeeld stel wat navolgenswaardig is.

Die tyd het gekom dat ons ʼn afsku ontwikkel in die talle mensonterende praktyke van ons dag. Waar menswaardigheid aangetas word moet afsku volg.

Dit moet ʼn mens daartoe bring om enersyds hand uit die mou te steek en te kyk hoe en waar jy kan help. Dit beteken egter ook om die telefoon op te tel, met die betrokke amptenaar te gesels en te vra wat aan die saak gedoen word.

Dit is afskuwelik dat kinders in rioolvuil moet speel. Dit is skandalig dat paaie vergaan. Dit is misdadig dat hospitale plekke word waar mense eerder sterf as gesond word. Dit is afskuwelik.

Dit is eweneens afskuwelik dat ek en jy ʼn verskil kan maak en dit nie doen nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.