ToekomsVenster: Verbly julle in die hoop

hoop-sonsopkoms

(Foto: Pixabay)

Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. – Rom. 12:12

Dinge is lekker deurmekaar hier by ons, nie waar nie? Die spanning is voelbaar in die Suid-Afrikaanse konteks en daar is net te veel stresfaktore.

Polities is ons op ʼn mespunt gebalanseer en hoe Ramaphosa en Magashule se faksies in die volgende paar dae gaan uitspeel, is duister. Jy weet mos teen einde April moet sekere keuses val. Mense wat weet sê ons mag ʼn skoppelmaai-ervaring hê.

Dit is nie net die politiek nie. Die ekonomie is uitdagend. Sommer ʼn hele rand per liter ekstra vir brandstof of R60 meer op ʼn gemiddelde tenk petrol.

Die inentingsprogram kom moeilik op dreef en tussen beloftes van miljoene dosisse entstof wat gekoop is, worstel ons met die moontlikheid van ʼn derde golf van Covid-19-infeksies.

Dink aan Brasilië waar duisend mense, selfs meer as in die VSA, aan Covid-19 verwante siektes sterf.

Nee wat, dit is maar stukkend, voorlopig en spanningsvol by ons. En tog is ons mense van hoop.

Hoop beteken dat God die laaste woord spreek, dat Hy die groter Realiteit verteenwoordig met ʼn hoofletter R.

Op aarde sal dit somtyds maar moeilik gaan, waarsku die Skrif ons, maar gaan dan voort, hou goeie moed want Ek het die wêreld oorwin.

Ons is meer as oorwinnaars deur Christus wat vir ons die krag gee. As ek van my knieë af opstaan het ek nuwe moed, kan ek die lewe weer in die oë kyk, weet ek dat Hy met my empatie het.

Glo ek sy beloftes, hou ek vas aan die verlossing en wie ek in Christus Jesus is en geword het.

Dan speel daar ʼn glimlag om my mondhoeke al is ek siek, sê ek dit gaan goed al het ek seer, is ek tevrede al is die brood nie meer so vars nie.

Mag ons nie opgee met hoop nie want dit staan vas.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.