ToekomsVenster: Verbly julle in hoop

lofprysing-gebed-hand-wolke-uitreik

Foto: @jeremyperkins/Unsplash.com

Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. – Romeine 12

Voorskrifte vir die geestelike lewe. So staan Romeine 12 bekend.

Die lewe van nuwe Testamentiese gelowiges was nie sonder probleem nie. Om midde ʼn goddelose en onverskillige sisteem ʼn nuwe manier van dink doen en glo te hê, was lewensbedreigend. As Paulus gelowiges maan om vas te staan in verdrukking, is dit nie teoreties nie. Dis lewenspraktyk, dis riskant om gelowige te wees en te bly.

Negatiewe en uitdagende omstandighede kan die hoop verydel. Swaarkry vreet aan die wortels van geloof en ondermyn hoop en vertroue. As die uitkoms oënskynlik uitbly en die stryd intensiveer staan geloofsvertroue kans om in so ʼn mate te verroes dat dit kantel en meegee.

Die gedagtes wat Paulus met die gemeente deel, is imperatiewe. Dis opdragte. Dis duidelik en onkomprimenteerbaar. Verbly julle in hoop.

In dié omstandighede is daar min om oor opgewonde te raak. As daar sprake van blydskap is moet dit in hoop gesetel wees. Hoop is nie ʼn miskien aangeleentheid nie maar seker en vas. Die laaste woord word deur God gespreek.

Die negatiewe en afbrekende kan nie vir altyd ongestoord bly voortbestaan nie. Daar kom ʼn einde aan. Die oorwinning is vas en seker. Die uitslag is bekend. Jesus Christus triomfeer. Dis nie die hoop van miskien nie maar die vaste wete dat God nie beheer verloor het nie.

Staan vas in verdrukking, onwankelbaar en geanker in die waarhede van God se Woord. Niks en niemand is bestand teen die Gees se aanslag nie. Klee julle in die volle wapenrusting van God sodat julle staande kan bly, is die opdrag wat Paulus aan gelowiges in Efese gee. As die stryd verby is is julle nog steeds op julle pos en nie onderstebo soos wat gewoonlik die geval met ons as gelowiges is nie. Daarmee saam, bid sonder ophou. Staan vas in gebed. Volhard in gebed. Dis gebed nie as ʼn toevallige en insidentele gewetensoefening nie maar gebed as ʼn manier van lewe en gelowig wees. Dis die grondhouding van die geloof.

Deurdringende, ononderbroke gebed.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.