ToekomsVenster: Verborge dinge van God

sonsopkoms-berg

Foto: Tiplada Mekvisan/Unsplash.com

Enkele verse uit 1 Kor. 2:1-14 – Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. Watter mens ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het. Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.

Wonder of u saam met my agtergekom het watter woorde gebruik word om na die openbaring van God in Jesus ons Here te verwys. Paulus praat van “geheimenisvolle waarheid, verborge waarheid, dieste geheimenisse” en “verborge dinge van God”. Inderdaad is hierdie waarhede aan ons openbaar in die optrede woorde en dade van Jesus die beeld van die onsigbare God maar wat onder ons gestalte aangeneem het.

Hy (Jesus) is die venster op God en sy bedoeling met mense. Wie God wil leer ken moet aan die voete van Jesus gaan sit. Hy en die Vader is een en soos Hy die Vader sien doen, doen Hy. Wat Hy die Vader hoor sê, sê Hy. Hy is die gestuurde van die Vader met volmag om die Vader aan ons bekend te maak en tog, hoe kan die majesteit, heerlikheid en grootsheid van God in mensewoorde akkommodeer word?

Paulus maak dit duidelik dat menslike wysheid nie die raad van God kan verklaar nie. Geletterdheid mag beïndruk maar dit ontbreek die openbaringskrag van God as dit probeer om God te verklaar. ʼn Mens het groot waardering vir die insig en wysheid wat geleerdheid kan bring.

Die wetenskap is ʼn voorbeeld van hoe mense deur navorsing en studie meer en meer van die wonderwêreld van die geskape werklikheid  verstaan en verklaar. Alle kennis kom van God en stellig ook die vermoë om sinvol en onderhoudend oor die verskillende dissiplines van die lewe te gesels.

Tog het ons met God se Woord, sy openbaring in menswoorde, met iets heel anders te doen.

God kan nie met menslike insig onder woorde gebring word nie. Hy word nie dissekteer soos op ʼn operasie tafel nie. Hy is ʼn misterieuse geheimenis. Ons het nog net begin om iets van God se heiligheid en almag te verstaan.

Ons bestaan op aarde is daarvoor net te kort en ons vermoë om te begryp net te beperk. Die bietjie wat ons wel weet is vanweë die werk van die Heilige Gees. Hy herinner ons aan alles wat Jesus gesê en gedoen het leer Johannes ons. Ja, ons het die Gees van Christus maar weet net genoeg om ons in vertroue op Hom te verlaat.

Die grootste deel is ons nog nie vertel nie. Daarvoor sal ons op die ewigheid moet wag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here Jesus dat ons die voorreg het om so n wonderlike God te kan aanbid….vir my mensverstand is dit te veel..Amen