ToekomsVenster: Vergewe ander


Foto: Juanita Badenhorst.

Matteus 6:14 – “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.”

Dat mense mekaar seermaak, iewers langs die pad teenoor mekaar oortree, is onafwendbaar. Doodgewoon omdat mense mense is – omdat volmaaktheid ons in hierdie lewe bly ontwyk, die sonde aan ons almal afgevryf het, die wêreld stukkend en getraumatiseerd is, noem maar op.

Omdat dit waar is, loop ons somtyds bo-oor mekaar, voer eiebelang botoon, sukkel ons om ons naaste lief te hê.

Ons leef binne die sirkel van eie belang en raak gefrustreerd met alles wat nie soos ons is nie.

Dit is nie reg nie. Dit mag nie tent opsit in ons lewens nie, maar dit is ook nie rede om jouself en ander in die grond in te verwens nie.

Sien dit vir wat dit is. Deel van hierdie gebroke bestel.

Gedurende die afgelope jaar het jy teleurgestel, ander teleurgestel. Seergemaak. Vergewe jouself.

Ander het jou seergemaak, jou hart gebreek, jou uitsig belemmer en jou laat wakker lê.

Jy kan dit met jou saamneem die nuwe jaar in, of jy kan daarvan afskeid neem.

Laasgenoemde is die aangewese ding om te doen. Laat dit gaan.

Sê totsiens.

So baie van die emosionele worsteling wat in die dominee of pastorale terapeut se spreekkamer land, het met onvergewensgesindheid te doen.

Somtyds wroeg mense ʼn leeftyd daarmee.

Tensy jy besluit het om jouself en ander te straf, belieg die duiwel jou. Hy is ’n moordenaar en ’n dief.

Kom by die punt.

Sê, “satan, in die naam van Jesus, jy het genoeg gesteel. Ek vergewe en gaan aan met my lewe”.

Skryf die brief, maak die oproep, besoek die graf.

Doen dit net!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.