ToekomsVenster: Vergewe ons soos ons ander vergewe

vergewe

Argieffoto.

Hoor my gebed! “Kyk, en U sal sien dat ek dag en nag vir die mense van Israel, u dienaars, intree in gebed. Ek bely dat ons teen U gesondig het. Selfs ook ek en my familie het sonde gedoen! – Nehemia 1:6 (NLV)

Sondebelydenis is nie ʼn maklike saak as ʼn mens dit met die nodige erns bejeën nie. Vir baie van ons is dit ʼn toevallige aangeleentheid, dit is ʼn terloopse vermelding as deel van ons gebed wat self nie veel verskil van die van vorige dae, weke, maande en jare nie.

Geen kommunikasie tussen twee belanghebbendes, veral mense wat in ʼn liefdesverhouding met mekaar staan, verloop so nie. As ons elke dag dieselfde opmerkings maak, dieselfde nuus deel, dieselfde besorgdhede uitspreek en dieselfde liefdesverklarings doen sal ons vennoot uitgekuier raak met ons.

Dit is juis die besondere van ʼn verhouding, dit is dinamies en ontwikkel. Daar kom groter vrymoedigheid en diepte na gelang die verhouding ontwikkel.

Ook die jammer sê geleenthede is eg, opreg en beleefd. “Jammer” se kwaliteit word daaraan gemeet of die hartseer wat daarmee gepaard gaan genoegsaam is om soortgelyke optrede in die toekoms te beperk en selfs uit te skakel.

Nehemia doen nie net belydenis van sy eie sonde nie maar tree ook vir sy familie en volksgenote se sonde en ongeregtigheid in. Vir baie mense is belydenis wat nasionale sonde betref ʼn pynlike ervaring. Hulle weier volstrek om hul aandeel aan die gebrokenheid van die verlede te erken of daaroor te praat.

Belydenis is bevrydend en genesend. Belydenis is die grondhouding van ʼn gelowige. Dis behoort nie so moeilik te wees om jammer te sê nie.
Suid Afrika stel besondere eise in die verband. Ons verlede lê besaai met hartseer en gebrokenheid. Dit lê aan alle kante van die mense spektrum.
Waarom sou ons die voorwaarde vir genesing so gering skat? Die “Ons Vader” leer ons immers bid, “vergewe ons soos ons ander vergewe”.

Die noodwendige keersy van die gebed is en help ons om vergiffenis te vra van die wat voel dat ons hulle verontreg het. In stede van walgooi en verontskuldig wat geen bydrae lewer tot genesing en beter verhoudings nie vinnig wees om jammer te sê.

Dit is net trots wat ons daarvan weerhou en die Bybel is duidelik oor trots en hoogmoed, nie waar nie?

“Het jy al so baie daaroor gebid soos jy daaroor gepraat het?”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.