ToekomsVenster: Vergifnis kan die toekoms verander

(Foto: Clay Banks/Unsplash)

Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe – Matt. 6:9

Die Evangelie kom op meer plekke voor as net in die Bybel. Ja, die Bybel is ons primêre bron maar God is ook op ander plekke en in mense aan die werk.

Ons praat van die algemene en besondere openbaring van God. In die algemeen beteken dit dat God Homself reeds openbaar in die dinge rondom ons. Die pragtige natuur, sy handewerk verkondig die grootsheid van God.

Dan het God Homself kenbaar openbaar in sy Seun. “Wie die Seun het, het die Vader en het die lewe”. (1 Joh.5:12) Hy is die weg en waarheid en lewe. (Joh.14:6) Sonder Hom het ons nie hoop nie.

Terug by my eerste gedagte dat die Evangelie op meer plekke gehoor word.

In ’n storie wat ek en Suzette op TV volg sê iemand “forgiveness cannot change the past, but it can most certainly change the future”.

Vergifnis kan en gaan nie ons gisters skielik uitvee nie. Wat gebeur het, het gebeur, wat gesê is, is gesê en wat gedoen is, is gedoen. Dit geld eweseer vir wat nie gedoen, gesê en gebeur het nie.

Ons kan mos na twee kante toe verontreg voel en verontregting is die gevoel wat die noodsaak van vergiffenis onderstreep. Iemand het my te na gekom en ek moet aandag daaraan gee want dit maak van my ’n siniese en wantrouige mens en dit wil God uiteraard nie.

Gister is water onder die brug, dit is onherroeplik verby. Dit is waarom ons ’n wag voor die mond moet hê. Hoe dikwels wens ons nie dat ons net ons woorde kon terugtrek nie, maar helaas dit kan nie. (Ps.141:3)

Die toekoms is egter soos ’n skoon lakei, niemand net nog daarop geskrywe nie. Wat die verlede betref het ons nie meer ’n keuse nie, maar wat die toekoms betref is dit radikaal anders. Ons kan nuwe inhoud gee aan die toekoms. Ons kan vergewe en mekaar met ope arms ontvang en toelaat. Dit verander die toekoms ten goede.

Ons vertroetel ons negatiewe gevoelens te veel. Dit hou niks goeds in nie. Die lewer geen bydrae nie, inteendeel, dit plaas jou hele lewe “ophou”.

Niemand kan vergewe namens jou nie. Niemand kan jou gebalde vuis oopdwing nie, net jy kan dit vrywillig oopmaak en in stede van ’n vuishou ’n versoeningsgebaar demonstreer.

Vir wie is jy kwaad?

Die “waarom” is amper nie ter sprake nie. Die Bybel sê “moenie ’n dag kwaad afsluit nie”. (Jak.4:11)

Vergewe soos Christus jou vergewe het. Moenie die duiwel vatkans gee nie en moenie jouself deur sy leuens laat mislei nie.

Ek en jy is nie so belangrik dat ons kan bekostig om ander so te beledig nie. As ons vergifnis verdien en dit is genade, verdien ander dit ook. Wat hulle daarmee maak is hulle saak. Die uitkoms gaan waarskynlik verrassend bevrydend wees maar indien nie, doen in elk geval want God verwag dit van jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U my help waar ek te swak is om om te doen soos U Woord se….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.