ToekomsVenster: Verkeerde fokus!


God

Argieffoto.

Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.” Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? – 1 Kor 1:11-13

Iemand sê die ander dag vir my dat die wêreld ’n baie vreedsame plek sou wees as daar nie ander mense was nie! Soms voel ons so. As ek die enigste mens was sou daar niemand wees wat van my verskil nie. As ek die enigste mens sou wees sou daar geen argumente wees nie. Besluite sou baie vinnig geneem word. Mense beteken probleme! Natuurlik verloor ons maklik uit die oog hoe min ons sou ontwikkel, hoe eensaam ons sou wees en hoe selfgerig ons is as dit ons houding is.

Mense was ook die probleem in die gemeente van Korinte. Hulle het onsedelik gelewe (1 Kor 5). Die mense het mekaar hof toe gesleep (1 Kor 6). Daar was huweliksprobleme (1 Kor 7). Hulle het gestry oor kos (1 Kor 8). Die nagmaal het op verdeeldheid uitgeloop (1 Kor 10,11). Hulle het op mekaar neergesien en hulleself belangriker geag as ander (1 Kor 12-14). Hulle het verskil oor die opstanding (1 Kor 15). Paulus spreek al hierdie probleme aan. Dit was ’n verdeelde spul.

Hulle verdeeldheid het egter ten diepste by hulle verhouding met Christus gelê. Dit word duidelik in die eerste hoofstuk van die brief. Paulus vra: ‘Is Christus dan in stukke verdeel?’ (1:13). Hoekom? Omdat hulle eenheid slegs in Hom gevind word. Die mense wat hierdie brief gelees het, het mense begin aanbid. Sommige was mal oor Paulus. Ander het Petrus as die beste leraar gesien. Vir nog was  Apollos die groot held. Mense het in die omgewing begin praat oor hierdie verdeeldheid (1:11). Wat ’n skande vir die kerk van Jesus Christus!

Is dit nie iets wat so dikwels in gemeentes gebeur nie? ’n Nuwe predikant kom en moet hoor hoe wonderlik of sleg die vorige een was. Mense sê dat hulle nie hierdie of daardie leraars se kerk toe gaan. Dit nou vir jou ’n ‘great’ prediker. En so begin partye in gemeentes ontwikkel. So word nuwe kerke gestig. Alles gaan oor ons aanbidding van mense.

In 1 Kor 3 skryf Paulus dat dit alles ’n simptoom van ’n siekte is. Hulle is wêrelds en onvolwasse (3:1-5). Verdeeldheid en twis, mensgerigtheid en partyskappe is ’n simptoom van geestelike gebrek. Hy sê: ‘As een van julle sê: ‘Ek is vir Paulus,’ en ‘n ander: ‘Ek is vir Apollos,’ is julle dan nie nog wêrelds nie? Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei’ (3:4-7).

Christus is nie in stukke verdeel nie. Sy liggaam kan ook nie in stukke geskeur word nie. As ons fokus of Christus is, sal ons een wees. As ons fokus op mense is, sal ons verdeeld wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Roela ·

Jesus dankie dat U bevestig dat U daar is vir ons. Dankie dat ons weet al hierdie negetiewe gebeurtenisse al v d aarde se bestaan deel was van die mensdom. Jesus help my om ook vorentoe te beur. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.