ToekomsVenster: Verskillende menings oor Jesus

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.” En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is ‘n profeet soos een van die ou profete.” Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.” – Lees Markus 6:14-16

Dwarsdeur die eeue was dit die geval en dit sal seker so wees totdat Hy weer kom op die wolke: soveel mense, soveel idees en gedagtes.

Aan die een kant getuig sommige mense dat Jesus in die gestalte van die ou Testamentiese profete optree. Die naam van Elia word genoem.

Elia was bekend vir sy vreeslose optrede en veroordeling van die booshede van Agab en sy heidense vrou Isebel. Elia het sy man gestaan in die gesig van vyandigheid en ongeloof. Hy het nie teruggedeins nie maar vreesloos die raad van God verkondig. Maleagi verhaal hoedat die Een wat kom, die nuwe Testamentiese Elia vaders en kinders met mekaar sal versoen.

Maleagi 4:6 – Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie maar dit slaan op Johannes die Doper.

Die mense het hier iets van die fokus en geloof van die profete raakgesien. Die profete van ouds het, dikwels te midde van vervolging en teenstand, die volk tot bekering opgeroep. Jesus het Hom nie laat intimideer deur die slimmighede van die Skrifgeleerdes en Fariseërs nie. Hy het geweet dat sy lewe in gevaar was maar nie gehuiwer om selfs deur die veragte Samaritaanse dorpe te reis en met ʼn Samaritaanse vrou te praat nie. Hy het Hom tot groot ontsteltenis van die geestelikes van sy dag met die laagstes in die samelewing bemoei, boonop sondaars.

Matteus 9:11 – Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?

Johannes die Doper het eweneens vreesloos opgetree. Hy het Herodus tot verantwoordelikheid geroep oor sy owerspel. Dit het Hom sy lewe gekos.

Iemand groter en meer as Elia en Johannes die Doper is hier. Jesus was veel meer, Hy was die Seun van God, God self onder mense. Die Seun is die gestalte van die onsienlike God. Wie die Seun het, het die Vader en die Gees.

Teenoor bostaande nadenke oor wie Jesus tog kon wees het die Fariseërs van Jesus gesê het dat Hy met behulp van die owerste van die duisternis bose geeste uitdrywe.

Markus 3:22 – Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.

“Kerkmense” wat so getuig oor Jesus?

Wat sê jy van Jesus? Wie is Jesus vir jou? Hoe getuig jou lewe en optrede van die belydenis wat jy nou net gemaak het? Is Jesus God? Kan jy onderhoudend aan ʼn gesprek deelneem met hierdie tema – die Godheid van Jesus.

Wat is jou getuienis aangaande Jesus?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

My Jesus is die Seun van God. Ons as mense begryp nie die drieënigheid nie maar tog GLO ons dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees, een wese is. Dit is waarom ons ‘gelowiges’ genoem word. Nou ken ons ten dele maar eendag sal ons verstaan. Prys die Heer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.