ToekomsVenster: Verskillende menings oor Jesus

sonsopkoms-man-wat-bid

Foto: Living365withjesus.wordpress.com

Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.” En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is ʼn profeet soos een van die ou profete. Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.” – Markus 6:14-16

Die opskrif van hierdie gedeelte is “Verskillende menings oor Jesus”.

Dwarsdeur die eeue was dit die geval en dit sal seker so wees totdat Hy weer kom op die wolke. Soveel mense, soveel idees en gedagtes.

Wat sê jy van Jesus? Wie is Jesus vir jou? Hoe getuig jou lewe en optrede van die belydenis wat jy nou net gemaak het?

Is Jesus God? Kan jy onderhoudend aan ʼn gesprek deelneem met hierdie tema – die Godheid van Jesus?

Teenoor bostaande nadenke oor wie Jesus tog kon wees, het die Fariseërs van Jesus gesê dat Hy met behulp van die owerste van die duisternis bose geeste uitdrywe.

Markus 3:22 – Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.”

Kerkmense wat so getuig oor Jesus?

Aan die een kant getuig sommige mense dat Jesus in die gestalte van die Ou-Testamentiese profete optree. Die naam van Elia word genoem.

Elia het sy man gestaan in die gesig van vyandigheid en ongeloof. Hy het nie teruggedeins nie, maar vreesloos die raad van God verkondig. Maleagi verhaal hoedat die Een wat kom, die Nuwe-Testamentiese Elia, pa’s en kinders met mekaar sal versoen.

Maleagi 4:6 – Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie. (Dit verwys na Johannes die Doper.)

Die mense het in Jesus iets van die fokus en geloof van die profete raakgesien. Hy het Hom nie laat intimideer deur die slimmighede van die Skrifgeleerdes en Fariseërs nie. Hy het geweet dat sy lewe in gevaar was, maar nie gehuiwer om selfs deur die “veragte” Samaritaanse dorpe te reis en met ʼn Samaritaanse vrou te praat nie.

Hy het Hom tot groot ontsteltenis van die geestelikes van sy dag met die laagstes in die samelewing bemoei, naamlik sondaars.

Matteus 9:11 – Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?”

Johannes die Doper het vreesloos opgetree. Hy het Herodes tot verantwoordelikheid geroep oor sy owerspel. Dit het Hom sy lewe gekos.

Tog verklaar Jesus:

Matteus 11:11 – “Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.”

Matteus 12:6 – “Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel.”

Matteus 12:41 – “Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona.”

Matteus 12:42 – “Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”

Johannes het self getuig: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie. Iemand groter en meer as Elia en Johannes die Doper is hier. Die Seun is die gestalte van die onsienlike God. Wie die Seun het, het die Vader en die Gees.”

Wat is jou getuienis aangaande Jesus?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bewonderaar ·

NIKS maak sin sonder Jesus nie. GEEN doel in enige voortbestaan, bewustheid, teenwoordigheid, gevoelens of moeite nie. As daar nie ‘n hoop op Hom is nie, wat is daar dan vir die mens? Absoluut niks. Hy is die sentrale punt van alles en van alle tye. Sy kruisdood is die enigste wentelpunt wat saak maak want dit is waarnatoe ALLES gewerk het sodat God vir homself kinders kon verkry wat in Sy heerlikheid sal deel en dit uit vrye wil! Dankie Jesus! Ek is vandag want U was nog altyd. Aan U al die eer en al die lof en al die aanbidding! Kom tog gou Here Jesus!

Madelein ·

Amen!!!! Jesus is Koning! Ek kan nie verstaan hoe daar mense op hierdie aarde kan wees wat nie in Jesus kan glo nie. Kyk rondom jou – ALLES IS ‘N WONDERWERK!!! “Elke knie sal buig en elke tong sal getuig…” Jesus is my BFF, ek het niks anders nodig nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.