ToekomsVenster: Versoeking en verleiding

silhoeet-skadu-wolke

Foto: Juanita Badenhorst.

Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. – Jakobus 1:12-15

Versoeking kom op almal se pad. Die spreekwoord “jy kan nie help as ʼn voël oor jou kop vlieg nie maar jy kan keer dat hy daar nes maak” is so waar. Dis in die aard van menswees dat hy op ʼn verskeidenheid van maniere verleiding sal ervaar. Baie mense voel gebelg en veroordeel omdat sondige en onvanpaste gedagtes by hulle opkom. Hulle redeneer dat gelowiges nie met sulke gedagtes behoort te worstel nie.

Die gedagte kom sonder dat ʼn mens dit bedink of nader roep. Dis nie die gedagte, die impuls wat die probleem is nie, maar die hantering daarvan. Om die gedagte te vertroetel is gevaarlik en gee maklik aanleiding tot die verkeerde. Kyk hoe prakties beskrywe Jakobus wat gebeur sodat ʼn mens sonde pleeg. Die gedagte “gee geboorte” aan ʼn begeerte en omdat die begeerte aantreklik is, gee ʼn mens daaraan toe. In die proses verkrag ʼn mens jou gewete en maak dit stil, jy rasionaliseer waarom dit in orde sal wees om die verkeerde daad te pleeg, jy aanvaar dat God se genade en vergiffenis weer oorvloedig sal wees. Om egter willens en wetens toe te gee aan die verkeerde is om die genade van die Here goedkoop te maak.

Die Bybel sê vlug van hierdie dinge af weg. Moenie daaraan toegee nie. Standvastig deurstaan bring oorwinning en die lewe. Die vrug van ʼn moedwillige ongeërgheid met dit wat verkeerd is daarenteen is verdoemend en loop op die dood uit. Dit is dus binne ons mag om, toegerus met die Gees van die Here, die verkeerde die stryd aan te sê en daarvan te vlug. Die sonde lê en loer. Moenie daaraan toegee nie. Presies hoe ongenaakbaar die verkeerde met ons handel word deur die beskrywende woorde “aanlok en saamsleep” gesê. Jy is amper weerloos teen die vernietigende aard daarvan.

Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. – 1 Korintiërs 10:13

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. – Hebreërs 4:15

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.