ToekomsVenster: Verspeelde kanse en geleenthede

vrou-sonsondergang-veld

Foto: Edu Grande/Unsplash.com

Daar is nie ʼn enkele persoon wat kan sê dat hy elke geleentheid wat op sy pad gekom het gedurende die afgelope jaar volledig aangegryp en benut het nie.

Benewens die feit dat die lewe met baie geleenthede gee, moet ʼn mens ook onderskei wat op jou van toepassing is. Omdat ʼn mens broos en beïnvloedbaar is het jy nie altyd die onderskeidingsvermoë wat nodig is om te onderskei dat ʼn spesifieke geleentheid benut moet word nie. Alle mense het tye van oorvloedige energie wat met passie, lewenslus en motivering gepaard gaan. Om dan van geleenthede gebruik te maak is nie moeilik nie.

Dan weer is daar tye van uitputting, ongemotiveerdheid en selfs moedeloosheid. Verskeie faktore kan tot hierdie toedrag van sake aanleiding gee.

Dit is maklik om in so ʼn seisoen geleenthede by jou te laat verbygaan. Ons moet leer om geduldig en simpatiek met onsself te wees. Ons is nie robotte wat meganies opdragte uitvoer nie. Ons emosionele gesondheid speel ʼn belangrike rol wanneer dit kom by die benutting van geleenthede.

Somtyds egter is ʼn mens moedswillig traag. Dis niks anders as ongehoorsaamheid en ʼn sondige onwilligheid om te doen wat die aangewese ding is om te doen nie. In daardie gevalle is dit uiteraard belangrik om jouself te bekeer en nuwe besluite te maak oor jou lewe. Belydenis is dan gepas.

Miskien kan jy met die volgende gedagtes identifiseer:

Here
Ek is moeg.
Soos ʼn swanger een wat lankal wag,
dae tel
en elke teken
van die klein nuwe weerlose lewetjie
as dié teken sien,
is ek moeg.
Ek is moeg.
Ek wil iets nuuts hê,
maar nie nuwe geskenke
wat blink (maar strak) by die boom bly lê nie.
Ek wil nuwe lewe verwelkom
ou bekende gesigte sien
en nie langer bang wees nie.
Ek is moeg.
En dors.
Ek wil nie langer oor die lewende water praat nie.
Ek wil in die snikhete somer
daarin swem en gulsig daarvan drink.
En rus.
~Anon.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.