ToekomsVenster: Vertroosting vir trane

(Foto: Luis Galvez/Unsplash)

Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. – Ps. 94:19

Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer. – Ps. 30:6b

Trane is maar deel van ons gebroke werklikheid. Daar is vreugdetrane, trane van dankbaarheid, vervulling, vreugde en betekenis. Die trane waarna die teks verwys is egter trane as gevolg van hartseer, teleurstelling, vertwyfeling, verlies.

Dink maar net terug aan die hartseer wat Covid-19 gebring het.

Ek lees van Shalane Haywood wat 10 van haar naastes aan die dood afgestaan het. Die hoeveelheid mense wat sedert Mei verlede jaar tot September gesterf het sou 11 FNB-stadions volgepak het. Dit is traumaties, ingrypend, onrusbarend, hartseer en rede vir trane.

Covid-19 is maar een scenario – die lewe is met hartseer werklikhede besaai.

Wat maak ʼn mens met jou hartseer en trane? Trane in sigself is terapeuties en allermins ʼn uitdrukking van ongeloof.

Trane is eg, eerlik en vol integriteit selfs al is dit trane van woede. Dit is wanneer wat onder die oppervlakte weggesteek is, die masker weggeruk word en net jy in jou weerloosheid, as’t ware gestroop en naak voor self, God en ander staan.

Dit is waartoe God ons roep – eerlikheid, swakheid en broosheid. Vir sulke mense is daar troos, sê die teks.

Moenie jou trane wegsteek vermy of probeer sluk nie.

Huil is ʼn gawe uit God se hand, trouens, Hy huil saam met ons.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.