ToekomsVenster: Vertrou die Here

teerpad-pad-landskap

Foto: Paul Trienekens/Unsplash.com

Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word. Toe het Hy weer die twaalf opsy geneem en hulle begin vertel wat met Hom gaan gebeur: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom aan die heidene uitlewer. Dié sal met Hom spot en op Hom spoeg en Hom slaan en Hom doodmaak. En drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.” – Markus 10:32-34

Ek glo nie dat daar benewens Jesus nog iemand geleef het wat in staat was om presies te weet wat die volgende paar dae vir hom sou inhou nie. Somtyds wens ons mos dat ons weet wat die toekoms inhou.

Sou ʼn mens weet en wat jy vooraf te wete gekom het is goed, positief en opbouend kan ʼn mens daarmee saamleef. Jy sal selfs uitsien daarna. Dis egter ʼn ander saak as dit die toekoms minder rooskleurig gaan wees. ( Jy onthou mos die TV-reeks wat môre se nuus vandag aflewer sodat die held betyds kan ingryp!)

Ook maar goed dat ons nie weet nie omdat ons so in die toekoms sou leef dat vandag heeltemal by ons verbygaan. Dis in elk geval ʼn groot uitdaging om elke oomblik bewustelik te beleef.

In Jesus se geval het sy voorkennis onheilspellende inhoud gehad. Vernedering, geseling, mishandeling en uiteindelik die dood. Hoe leef ʼn mens daarmee saam? Sou dit nie beter gewees het as Jesus nie geweet het nie?

Jesus gebruik egter die inligting om sy dissipels voor te berei. Hulle kon selfs te midde van wat Hy hulle vooraf gesê het die spanning nie hanteer nie. Almal het Hom in die steek gelaat. Petrus het Hom selfs verloën om nie van Judas te praat nie.

Jesus het sekerlik die gesag gehad om met die inligting tot sy beskikking terug te draai op sy voorneme om versoening te kom doen vir die misdade van mense. Hy het nie nodig gehad om Homself te offer nie. Hy was by magte om Hom die verdriet te spaar. Die implikasie daarvan is dat ons nog verlore sou wees maar selfs daarvoor sou ons Hom nie kon verwyt nie. Immers, dis ons sondes wat die vreemdelingskap en vyandskap tot gevolg gehad het. Dis oor ons sondes dat Hy deurboor en verbrysel is, die straf vir ons sondes was op Hom.

Jesus is egter koersvas en beslis dat Hy sal doen wat nodig is om God en mense met mekaar te versoen. Die Hebreër skrywer sê “terwille van die vreugde wat Hom voorgehou is het Hy die kruis verdra”.

Gelukkig weet ons nie wat more inhou nie. Soos toe weet Jesus egter  wat die toekoms vir elkeen van ons inhou. “He holds the future” sing die liedjie iewers.

God is in beheer van ons lewens. Omdat die straf vir ons gedra is en ons nooit van Hom verlate sal wees nie, Hy is Immanuel, kan ons met geloofsvertroue leef ongeag wat die toekoms vir ons inhou.

Weereens die troos dat die Here goeie dinge vir ons in gedagte het.

Vertrou die Here met vandag en môre. Hy is reeds daar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Heer wees my genadige as ek bid vir oorplasing Durban toe ek mis my kind en ouers asb ek Staan op U woord ek vertrou en Glo U asb dankie Vader

Krummel ·

Johanna Botha – nee, asb. nie almal moet gaan stem nie, net party! Dit is ‘n bedekte seen dat daar so min jongmense gaan registreer het, kan jy dink vir watter kleur oorpak hulle sou stem.
Sien die hand van die Almagtige hierin, ook in die feit dat die huidige regerende party nog altyd net-net nie die 2/3 meerderheid gehaal het nie. Dankie Here!!

Von ·

Here tenmidde van chaos in ons pragtige land weet ek Here U alleen is in beheer. Amen

Agie ·

Amen
Ek dank ons Vader dat ek nie die toekoms ken nie. Nie die volgende sekonde nie. Ek dank God dat ek wéét dat Hy alleen regeer en soewerein heers oor almal. Gelowiges en ongelowiges.
Ons bring U, JESUS CHRISTUS al ons lof en aanbidding en eer U vir U kosbare prys wat ons ewige vrede en vreugde en LEWE gee. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.