ToekomsVenster: Vertrou Hom vir bewaring

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

… maar verlos ons van die bose. – Matt 6:13

Daar was ʼn tyd toe die bestaan van die bose bevraagteken is. Vir baie is die gesprek ook net nie meer relevant nie. Die bestaan van die duiwel as God se teenparty, die koninkryk van die duisternis as teenpool van die koninkryk van die Lig, God en die bose is ʼn werklikheid waarmee gelowiges moet rekening hou. Jesus verseker ons dat Hy die wêreld en sy sisteem oorwin het.

Luk 10:18: Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ʼn weerligstraal uit die hemel sien val.”

Openbaring vertel vir ons dat die duiwel, wetende dat sy tyd min is, alles in die stryd werp om die kerk en gelowiges van stryk te bring. Die Bybel sê dat die duiwel soos ʼn brullende leeu is. Dat hy dus ʼn werklikheid is, is gewis. Dat hy nie ʼn bedreiging hoef te wees vir mense wat deur die Gees gelei word nie, is ewe waar. Die duiwel het net soveel houvas in die lewe van ʼn kind van die Here as wat aan hom gegee word. ʼn Mens speel egter nie met die bose nie. Selfs die aartsengel het nie met hom in gesprek getree nie, maar net gesê die Here bestraf jou.

Sommige mense loop gevaarlik na aan wat betaamlik is. Weerstaan hom en hy sal van jou wegvlug, sê die Bybel. Daar is mense wat besonder goed toegerus is om mense wat so verstrengel geraak het in die web van die duiwel daarvan los te maak. Dit is egter ʼn ekstreme vorm van binding en nie die normale nie. Ek is versigtig vir die lukrake en gemaklike manier waarop die bose hiet en gebied word. Ek reken dat ʼn mens veel liewer jou aandag aan God sal gee en Hom sal vertrou vir bewaring.

Onthou die tyd van gebed vanaf 25 Mei (Hemelvaart) tot 4 Junie (Pinkster).

Die huidige knelpunte roep ons om ernstig te bid vir ons land en sy uitdagings met die verwagting dat die Here ons sal gebruik om die verskil te leef. Christene word opgeroep om daagliks te bid net waar hulle hulself bevind, veral gedurende die goue uur van gebed vanaf 12:00-14:00.

Daarbenewens word gelowiges uitgedaag om veral saam met onbekende mense te bid.

Vertel ander van hierdie inisiatief wat wyd ondersteun word. Besoek www.sapray.co.za of laai Toekomsvenster se gratis app af vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marien ·

100% waar. n Paar jr gelede het n kennis aangebied om vir my te bid (tydens n siektetoestand). Na haar gebed het ek versigtig vir haar gevra tot wié het sy gebid…sy moes mooi dink daaroor. Tot haar skok het sy besef, sy was só besig ‘om die duiwel te bestraf’ -en dus met SATAN te praat, dat sy in werklikheid haar GEBED gedéél het (GEBID het tot..) God EN satan! Slinkse ou duiwel wat selfs mense se heilige stiltetyd -wat uitsluitlik vir GOD bedoel is- binnedring sonder dat mens dit besef…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.