ToekomsVenster: Vertrou jy die Here?

Foto: Jasmin Ne/Unsplash

Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” “Ja, Here,” antwoord hulle Hom. Toe raak Hy aan hulle oë en sê: “Wat julle glo, sal gebeur.” – Matt. 9:28-29

ʼn Raadslid van die sinagoge se dogtertjie het pas gesterwe. Hy vra dat Jesus sy hande op haar sal lê en spreek die vertroue uit dat sy weer sal lewe as Jesus dit sal doen. Jesus maak gereed om saam met die raadslid te gaan toe ʼn vrou wat aan bloedvloeiing ly aan Hom raak. Sy ontvang wonderbaarlike genesing.

Nadat Jesus die raadslid se dogtertjie genees het vertrek hy maar dit lyk of Hy nie met sy reis vorder nie. Twee blindes roep sonder ophou uit: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid”. Jesus tree daar met hulle in gesprek soos die teksgedeelte ons vertel. Jesus vra of hulle werklik glo dat Hy kan doen wat hulle van Hom vra waarop hulle bevestigend antwoord. Hy raak aan die twee se blinde oë en hul sig word wonderbaarlik herstel.

Nuus oor Jesus se wonderdade versprei sommer vinnig en die een na die ander sieke word na Hom gebring vir aanraking.

Die woorde “glo julle dat Ek dit kan doen” is betekenisvol. Jesus se genesingswonders kan nie resepmatig uitgelê en verduidelik word nie.

Somtyds speel geloof ʼn rol en ander kere is dit nie ter sprake nie. In hierdie geval is dit wel belangrik, soveel so dat Jesus verneem hoe dit met die twee blindes se geloofsvertroue staan.

Nadat hulle hul onwrikbare vertroue in Hom bevestig het doen Hy die wonder waarop hulle gehoop het. Die vraag na die gehalte van ons geloofsvertroue is uiteraard relevant. Om iets van Jesus te vra maar te twyfel sê Jakobus is ʼn futiele oefening.

Dit is soos die deinings van die see, op en af en heen en weer, maar vermag nie iets daadwerklik nie.

Ons het nodig om Jesus onbevange en volledig te vertrou. Hy is ʼn goeie God wat ʼn behae daarin skep om sy kinders op die punt van hul behoefte te ontmoet.

Waarvoor vertrou jy die Here en hoedanig staan dit met die geloof in Sy persoon, integriteit, geloofwaardigheid en gewilligheid om jou op die punt van jou nood te ontmoet?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ek U ten volle mag vertrou….U is die ewige alomteenwoordige God….Amen

charlotte ·

Dankie Here dat ek op U kan vertrou. Mense stel teleur maar U is altyd dieselfde. Dankie vir voorsiening en deurbraak.Dankie vir U liefde en genade. Dankie dat U my vashou en beskerm as die lewensstorms om my woed. AMEN AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.