ToekomsVenster: Vertrou meer

Vertroue

(Foto: Reint Dykema)

Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel en hom nie wend tot duister magte en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie. – Psalms 40:5

Vertrou of glo kan seker as sinonieme gebruik word. Beide veronderstel ʼn saak of persoon wat as objek van daardie vertroue dien. Selfs al is jou vertroue in jouself hang dit nie net iewers in die lig nie. Dit word as’t ware iewers vasgemaak, geknoop, dit kom iewers tuis.

Selfvertroue is nie onvanpas nie. Mens moet in jouself en jou eie vermoë glo. Die Here wil nie hê dat ons met ʼn lewenshouding van “verskoon my asseblief” rondloop nie. As Elia die aankondiging doen dat dit vir drie jaar nie gaan reën nie moes hy met ʼn redelike mate van selfvertroue opgetree het.

Selfvertroue en Godsvertroue gaan egter hand aan hand, die een vloei uit die ander voort. Godsvertroue lei tot selfvertoue.

Selfvertroue is nie verwaandheid nie behalwe as dit volledig van jouself afhang. So ʼn hoogmoedige selfvoldaanheid word uiteraard nie deur die Here geseën nie, trouens die Bybel sê dat God nogal ʼn renons het in mense wat so self behep is. Die woord ‘ek’ word baie in gesprekke gehoor, van genade is daar min sprake. Daar is geen erkenning aan enige iemand anders nie. Iewers langs die pad loop so ʼn persoon homself vas. Iewers lê ʼn groot stuk teleurstelling en wag. Wie net op self vertrou kom bedroë daarvan af.

Die teks in Ps. 40 is gepas. Vertrou die Here, nie omdat jy nie jou huiswerk gedoen het nie, nie as ʼn manier om jou eie verantwoordelikheid te ontduik nie, nie omdat jy lui en onwillig was nie. God gee alles wanneer jy alles gee, jy het mos gawes en talente en vermoëns uit die hand van die Here ontvang, of hoe?

Daar is omstandighede waar jy volledig op God aangewese is. Hy is getrou om jou te ontmoet en te lei.

Kies egter om ʼn medewerker van God te wees in die koms van sy Koninkryk. Jy sal nie teleurgesteld wees nie.

Vertrou meer, waag meer, leef meer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.