ToekomsVenster: Vertrou op God


Vertroue

Foto: Reint Dykema.

Is daar nog hoop vir my, Here?  U is my enigste hoop. – Lees Psalm 39:8

Dis ‘n aktuele vraag, die soeke na hoop.  Baie mense het hopeloos geword.  Die sekuriteit en veiligheid van ʼn lewe saam met God en ander het verdwyn.

Ek beleef dat baie mense, (ek sukkel ook somtyds), sukkel om God raak te sien en te beleef in so ‘n stukkende wêreld.  Dis asof dinge wat rondom ons gebeur ‘n “Godsverduistering” veroorsaak.

Die waarheid is egter dat God Immanuel is, met ons. Jesus was God verlate sodat dit nooit die voorland van Sy kinders sal wees nie.

Alhoewel hartseer, pyn en nood nog nie finaal opgehef het nie, (dit sal eers by Sy verskyning gebeur), is Sy teenwoordigheid altyd daar.

In die donkerste uur dra Hy ons. Dis ‘n saak van geloof, selfs al gaan ek deur donker dieptes, ek sal geen onheil vrees nie want U is met my.  Psalm 23:4

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.  In u hande is ek veilig.

Somtyds is geloof al wat ons oor het.  Geloof immers maak net sin wanneer ‘n mens dit in rat moet plaas.  As alles altyd voorspoedig verloop en ‘n mens nooit jou gemaksone moet verlaat nie, is geloof mos nie nodig nie.  Geloof is ‘n vaste wete en vertroue, ‘n visie en blik op God se bestemde toekoms al kan jy dit nie sien nie en al lyk dit ver en onwerklik.

Hebreërs 6:12 – Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Ek hoor van ‘n gemeente wat ʼn reeks aanbied met die tema – “waag dit met Hoop”.

Dit beteken niks anders as om God nuut te vertrou al lyk dinge krom en skeef nie.  Is jy bereid om God (weer) ‘n kans te gee?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.