ToekomsVenster: Vertrou, selfs in moelike omstandighede

(Foto: Pixabay.com)

Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. – Fil. 1:12-13

Paulus verkeer in die gevangenis ten tye van die skrywe van hierdie brief. Sy omstandighede is ver van ideaal, maar hy kla, verwyt of verkwalik nie. Inteendeel, hy beskou sy konteks as ʼn geleentheid om oorvloedig te wees in die werk van die Here.

Die keiserlike wag wat Paulus moes op pas en baie ander word op grond van Paulus se getuienis en optrede veel eerder bewus van die onreg wat hom aangedoen word. Hy is nie ʼn krimineel wat verdien om opgesluit te word nie. Paulus verkeer in hierdie omstandighede vanweë die getuienis wat hy lewer aangaande Jesus van Nasaret.

As die keiserlike wag besef dat Paulus onregmatig aangehou word, wil ek glo, dat sommige hul toevlug by Jesus neem.

Dit is nie net die keiserlike wag van wie sprake is nie. Gemeentes wat verneem van Paulus se omstandighede word bemoedig en bemagtig om te midde van vervolging wat hulle te beurt geval het, standvastig te bly. Hier dink ek aan Paulus se bekende wapenrusting in Efesiërs 6: “Wanneer die stryd verby is, is die gelowige steeds op sy pos”.

Ons kan so maklik kla wanneer omstandighede wat ons eie beoordeling betref minder ideaal is. Ons vra waarom God dit in ons lewens toegelaat het? Ons vra of ons sonde gedoen het dat ons nou so swaarkry? Ons vra of God betroubaar is en hoe ʼn mens sy beloftes moet verstaan? Ons besluit selfs om nie te bid nie en tree arrogant in sy teenwoordigheid op.

Hoe groot is die Here dat Hy ons verdra te midde van dit alles? Ons het meer van Paulus se ingesteldheid nodig. Die vraag is nie waarom nie maar waartoe, met die oog waarop.

Hoe wil die Here midde hierdie omstandighede gebruik om sy Evangelie deur Woord en daad te bring? Dit is wanneer ʼn mens die uitdaging aanvaar om die Here selfs te midde van minder aangename omstandighede steeds te vertrou dat die vreugde en oortuiging van Christenskap weer terug kom.

Dalk moet ʼn paar van ons om verskoning vra: “Jammer Here dat ons so maklik onder druk swig. Help ons om die vertroue wat U in ons het waardig te wees!”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Amen…dankie Here al is ek swak in geloof is elke nuwe dag weer n geleentheid wat U vir my skep om die lam kniee te versterk

annie ·

Die moderne era se peste werk heel anders as vroeër jare. So saam met aardverwarming, BLM, evolusie en ateïsme is dit bloot ‘n teistering wat die mens moet oorkom terwyl ons kits-metodes gebruik om die ‘Lamp’ nog blinker te kry dat die ‘Onderdanige Slaaf’ tog weer moet verskyn en al ons wensregte uitvoer. Ons is moeg gewag op Aksie. Ons het mos regte as mense, die base van die Aarde. Geduld en vertroue? Ons is mos nou sondeloos en nederigheid pas hoeka nie by die moderne alwetendes nie.

Esme ·

Here, versterk asseblief my geloof in hierdie dae wat ek met tye so moedeloos raak. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.