ToekomsVenster: Vertroue wag, wag en vertrou

wag-uitkyk-berg-wolke-man

Foto: Joshua Earle/Unsplash.com

Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor. – Miga 7:7

Wat ʼn uitsonderlike teks van geloofsvertroue. Vertroue wag, wag en vertrou, die twee belangrike merkers wat uit hierdie teks oor gebed na vore tree.

Ons noem onsself gelowiges maar wil alles oombliklik hê. As ons gebed nie dadelik benatwoord nie bevind ons onsself in sak en as en begin ons twyfel. Ons betwyfel die bestaan van God en of sy goeie bedoelings met ons. Ons wonder selfs sonder om dit in soveel woorde te sê of Hy in staat is om sy beloftes gestand te doen. Andersyds twyfel ons oor ons eie geloofsverankerdheid, ons redding en ons geloofwaardigheid. Dis nie lank nie of ons bevind onsself in angs en onsekerheid en begin ons eie planne te beraam om die situasie aan te spreek.

Wag is moeilik, ongewild en tydsaam. Wag beteken nie niksdoen nie. Dit beteken aktief bid en selfs beplan vir dit wat jy hoop om uit die Here se hand te ontvang. Dit beteken in ʼn toestand van gereedheid te kom en as’t ware met oop hande te leef in verwagting dat God gaan antwoord.

Die gedagte dat dit selfs jare kan neem is uitdagend. Die waarheid dat sommige mense in die Bybel geglo maar nie ontvang het nie, is ontwrigtend.

Lees gerus weer Hebreërs se huldeblyk aan die geloofshelde van weleer. Sommige het uitsonderlike gebedsverhoring beleef. Ander het deskant die beloofde land gesterf. Die belofte was nie vir hulle bedoel nie maar het ʼn volgende generasie toegekom as gevolg van die getroue gebede van die voorgeslag.

Is jy bereid om te bid, te wag en selfs nie te ontvang nie maar te bly glo?

Die maar waarmee die teks is eweneens betekenisvol. Mens dink onwillekeurig aan die gespot wat Nehemia en sy tydgenote moes verduur tydens die bou van die mure wat afgetakel en verbrand was. Mens dink aan die bespotting wat Jesus in die woestyn moes beleef toe hy deur die duiwel versoek is om nie eers te dink aan die vergeseling van sy eie mense toe hy aan ʼn kruishout sterf nie. Mens dink aan die goedbedoelde maar ontmoedigende raad wat Job se vriende hom gegee het tydens sy reis in vertwyfeling en sy vrou se uitroepe dat hy selfs vir God moes vervloek.

Geloof is nie ʼn uitweg vir mense wat nie kans sien vir die lewe nie.

Dis nie ʼn teken van swakheid nie.

Indien enige iets is geloof die pad van helde.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hallelujah ·

Gisteraand het ek en my ma op ons kniee geval voor ons bank. Ons het gehuil soos ons God bedank het vir als wat ons ontvang, maak nie saak wat nie.

Dankie God dat ons kos in ons monde kan sit. Dankie Heer dat ons lewe. Dankie vir U genade elke dag. Dankie dat U ons omvou met U liefde. Dankie vir U arms om my my God.

Bid wag net en glo. Vertrou en God gaan laat gebeur. In Sy tyd nie ons tyd nie en dit gebeur dit gebeur. Ek sit by my werkstafel en wil huil van emosie.

Amen my God Amen

Hannah ·

Verstaan hierdie emosie wst jy beleef. SY genade is so groot en oorvloedig! Wanneer ek onder die warm skoon water staan en stort sê ek dankie HERE! Om elke oggend wakker te word met SY beskerming en self op te staan en aan te trek… my eerste koppie koffie saam met die sonsopkoms…wat ek kan sien…die voëls wat ek kan hoor ..te veel om op te noem! Om vir iemand iets te kan bak…om in die tuin te kan werk…prys die HERE vir sy oneindige goedheid! Om te kan getuig van SY goedheid en almag …wat ‘n voorreg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.