ToekomsVenster: Vervreemding

juanita-badenhorst-05-waterlelie-blom

Foto: Juanita Badenhorst.

Lees: Psalms 146:1-10:

“1 Prys die Here! Ek wil die Here prys. 2 Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. 3 Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie. 4 Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen. 5 Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God. 6 Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou, 7 Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes, 8 die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. 9 Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees, maar Hy versper die pad vir die goddeloses. 10 Die Here regeer vir altyd. Sion, jou God regeer van geslag tot geslag. Prys die Here!”

God, moet ons onthou, is die God wat veral aan die kant van die verarmde, die verontregte en die vereensaamde staan. Hy het alle mense lief, maar as van sy kinders – die eensames, die weduwees en die wese, die vreemdelinge en die verstotenes – te na gekom word, tree Hy op! Ons sal dieselfde moet doen, saam met Jesus na die hoeke van die strate, na die eensame skuilings, na die moedeloses op die platteland en die middestede, moet stap. Ons moet ons verstote susters en broers gaan soek! Dit is nodig dat ons met mekaar hieroor praat. Met watter vorms van vereensaming en marginalisering het ons in ons stukkie van die land te make? Wat vra Christus van ons in ons eie spesifieke situasie?

Gebed:

Hemelse Vader, vergewe ons as ons dikwels net na ons eie welsyn omsien en onsself distansieer en isoleer van die pyn en nood van ander. Maak ons oë oop om die nood van mense rondom ons raak te sien. Ontroer ons harte en vul ons met ontferming. Rus ons toe om die hulpeloses te help, die vader- en moederloses, en die baie eensame mense in ons gemeenskappe te omhels. Help ons om uit te reik na vreemdelinge. Maak ons harte sag teenoor mense wat behoeftig, dakloos, honger en koud is. Hier is ons! Gebruik ons!

Leefwyse:

Weet jy van iemand wat alleen en vervreemd voel? Wil jy hulle nie as God se werktuig help om hul vrees en isolasie te oorkom nie? Reik vandag uit na sulke persone.

Om oor na te dink:

Nie een van ons kan al die probleme in die land waarvan ons hierbo gepraat het, oplos nie. Maar jy kan êrens iets doen. Dink daaroor en praat daaroor. En gaan doen dit!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Hiermee kan ek saamleef, verseker. Een van die min kerke wat die verarmdes, verstotes en die weduwee en wese n priorities is en nie slegs n uitgawe item op die begroting nie.
Waar is die blanke plakkerskampe waar ons die verarming met waardigheid kan hanteer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.