ToekomsVenster: Vervuld met die Heilige Gees

silhoeet-skadu-wolke

(Foto: Juanita Badenhorst)

“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” – Johannes 14:27 (AFR83)

Die oorwinningslewe, dit is waartoe ons geroep word. Die oorwinningslewe, dis wat ons belowe word. Die oorwinningslewe, dis wat ons meermale ontwyk. Ons gee egter nie op nie, ons stry die stryd van die geloof in die wete dat die Here ons nie iets sal beloof wat nie inderdaad beleef kan word nie. Dalk nie elke dag nie, dalk met lang tye van vertwyfeling en wanhoop tussenin, maar altyd opsoek na die belofte daarvan.

Die Heilige Gees is gedurende die Pinkstergebeure gegee om ons op hierdie pad te begelei. Tereg was die dissipels erg ontnugter en angstig deur die aankondiging dat Jesus terugkeer na die hemel.

Hulle het letterlik alles opgegee om Jesus te volg. Hulle het beleef dat die Evangelie die antwoord is op die kwelvrae van hierdie wêreld. Hulle was bereid om Hom tot by die einde te volg, maar nou kondig Hy aan dat Hy hulle alleen gaan los. Dit is dan dat Jesus met die verrassende aankondiging kom.

Dit is tot julle voordeel sê Hy dat Ek weggaan. Nou kom die dispensasie van die Gees, ʼn nuwe dimensie in die heilsgebeure. In sy mensheid kon Jesus op een plek wees, aan een saak aandag gee, een taak uitvoer. Die Heilige Gees, God self, is aan geen menslike beperking onderhewig nie. Hy is altyd oral, altyd oorvloedig beskikbaar, sy krag is onbeperk in en vir elke situasie. Dat ons somtyds van die Heilige Gees vergeet, is hartseer.

Baie word Gees-bewus wanneer Pinkster aanbreek, maar met verdrag raak die Gees en sy werking weer op die agtergrond.

Feit van die saak is dat die lewe van en in die geloof nie geleef kan word sonder die Heilige Gees nie. Ons het nodig om voortdurend vanuit die oorvloed van die Gees se werking en krag te leef.

Vervuld met die Heilige Gees, is en moet ons daaglikse gebed wees.

Ek herinner my aan die woorde van ʼn lied:

Heilige Gees kom vervul my

Raak my lewe vandag

Kom met die wind en met vuurtong

Raak my terwyl ek hier wag.

Mag die Gees jou lewe vervul.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.