ToekomsVenster: Verwondering as beginsel vir ’n gelukkiger lewe

wonder-verwondering

Foto: Adam Griffith/Unsplash.com

Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie: hoe ‘n aasvoël in die lug bly, hoe ‘n slang teen ‘n rots op seil, hoe ‘n skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen ‘n man en ‘n meisie werk. – Spreuke 30:18-19

Aansluitend by dit wat ons verlede week met mekaar gedeel het (interessant hoe die beginsels tog met mekaar saamhang) dink ons vandag oor verwondering na.

Ons jongste kleinkind is eersdaags ʼn jaar oud. Hy was ( trouens oupa dink so) van die eerste oomblik af in verwondering oor hierdie merkwaardige en wonderlike wêreld. Dit is asof niks sy aandag ontsnap nie. Geen ervaring gaan verlore nie. Iewers begin dit ʼn verwysingsraamwerk vorm aan die hand waarvan hy die wêreld intelligent sal beleef.

Louis Amstrong in daardie legendariese lied “What a wonderful world” besing juis die grootheid van dit alles.

Ons noem dit verwondering. Dit is die vermoë om lank genoeg by ervaringe stil te staan dat dit jou verbeelding aangryp.

Eintlik is die lewe so ryk aan ervarings dat ʼn mens in ʼn permanente staat van verwondering behoort te leef. Ek verwys na ʼn paar:

  • ʼn Nuwe dag wat aanbreek, sonsopkoms, die nag wat wyk.
  • Die sterre aan die hemel, die uitspansel, die eindelose hemel.
  • Die geboorte van ʼn nuweling
  • Die ervaring van liefde, aanvaarding, omgee en nabyheid
  • Genade

Jy kan gerus by wyse van kommentaar aandui wat jou verbeelding telkens aangryp.

Die groot vyand van verwondering is vanselfsprekendheid. “Natuurlik sal die nuwe dag aanbreek, die sterre skyn en God my liefhê”. Maar daar is niks vanselfsprekend aan hierdie wêreld nie. As God se hand toemaak is dit klaar met ons. Dank die Here Hy doen dit nie.

Interessant dat die mooi dinge in die lewe meermale gratis na ons toe kom. Dit verg net ‘n bietjie nuuskierigheid, die vermoë omanders te kyk, waar te neem en te waardeer.

Kom ons gee vanaand rekenskap voordat ons gaan slaap van wat vandag ons verbeelding aangegryp het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Erwee ·

‘n Asem-teug!!! Sonder dit kan daar geen verwondering wees nie.

Elsie Riekert ·

Hoe ‘n liggaam aanmekaargesit is. Elke onderdeel het sy werk en saam werk alles perfek.

Johan ·

Die onverdiende goedheid en genade van ons Here Jesus Christus

Marina ·

Die natuur is asemrowend mooi! Kyk na die voeltjies hoe hulle baljaar in die reenwater. Die mannetjes duif hoe hy met die wyfie flirt en die wyfie op haar beurt “weg trippel” van hom af. Die gekoer van die tortelduifie …Alles so volmaak deur God geskep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.