ToekomsVenster: Vir Hom sal ek prys

Foto:
Carolina Jacomin/Unsplash.com

Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek. – Eksodus 15:2

Ons weet nie hoe dit gaan wees in die hemel nie. Die Bybel gee nie vir ons ʼn grafiese beskrywing van lewe aan die anderkant nie. Ek het ʼn vermoede dat ons lekker besig gaan wees.

Werk het eers lastig geraak na die sondeval. Voor die tyd was dit deel van die kultuuropdrag wat God aan Adam en Eva gegee het. Dit is eers na Eva en toe Adam verlei is om God ongehoorsaam te word dat ʼn mens in die sweet van sy aangesig of met moeite sy brood sal verdien.

In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. – Génesis 3:19

Nou ja, wat dit ook al mag behels, ons sal nie teleurgesteld wees nie. Wat die oog nie gesien, die verstand nie bedink en in die hart van die mens nie opgekom het nie, het die Here vir ons voorberei.

Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. -1 Kor.2:9

Van een aktiwiteit is ek egter seker, ons sal die lof van die Here besing. Ons sal aansluit by hemelse kore en met perfekte harmonie ʼn konstante musikale belewenis hê. Wanneer ʼn mens ʼn boek soos Openbaring lees sien jy hoe die drie enige God sonder ophou aanbid, geloof en geprys word.

Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”- Die Openbaring 4:8

Ons moet “lof fiks” wees. Elke geleentheid om die Here te loof en te prys is tegelykertyd voorbereiding vir die ewigheid.

Ek is soms ietwat moedeloos wanneer dit amper lyk of die gemeente traag is om die Here te aanbid. Die gesigte dra die vermoeienis van die week sigbaar in stede van stralende dankbaarheid teenoor die Een wat die lewe gee.

Dit voel so of ons mense lewensmoeg is. Dalk moet ons net weer erns maak met die krag van die Gees. In gesprek met die Samaritaanse vrou se Jesus die Vader soek mense wat Hom in Gees en in waarheid sal aanbid.

Die bekende lofpsalm lui:

Prys die Heer met blye galme,
o my siel, daar’s ryke stof!
‘k Sal, solank ek leef my psalme
vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied,
altyd groot maak in my lied.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tollies ·

Prys die here en dans voor die Here Verseker sal dit so wees Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.