ToekomsVenster: Vir spys en drank

(Foto: Dan Gold/Unsplash)

Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God. – Prediker 3:13

Daar verskyn ’n berig in die Rapport oor ’n ooreenkoms wat tussen die EU en Suid-Afrika tot stand gebring is om die vermorsing van voedsel in Suid-Afrika te keer.

’n Verbysterende 10 miljoen ton kos word jaarliks gemors in ’n land waar 14 miljoen Suid-Afrikaners honger gaan slaap. Wêreldwyd word een derde van alle voedsel vermors terwyl een uit elke sewe mense ondervoed is.

Dit getuig van ’n sosiale gewete wat afgestomp en selfsugtig geword het en die meeste van ons is daaraan aandadig.

Uiteraard kom ’n hele aantal belangrike dinge hier ter sprake. Voedselsekerheid het ’n gonswoord geword, omgewingsbesoedeling en die uitputting van bronne is ’n bron van kommer. Aardverwarming en die wyse waarop dit in natuurverskynsels en rampe uitspeel is nie meer net ’n teoretiese werklikheid nie. Voedselpryse het in ons eie land ontstellend toegeneem en baie mense getuig daarvan dat hulle by stygende lewenskoste nie meer kan byhou nie.

Verantwoordelikheid begin by ’n dankbaarheidslewe en ’n besef dat ons rentmeesters is van alles wat God in sy goedheid aan ons toevertrou. Niks behoort aan ons nie. Ons bestuur dit namens God en op so ’n wyse dat sy saak ten beste gedien word.

Die verantwoordelikheid begin in ons eie huise. Die goed in die yskas wat op die lange duur weggegooi word omdat dit nie meer geskik is vir menslike gebruik nie kon uitgedeel geword het. Ja, so eenvoudig soos die melk wat op die kombuiskas suur word omdat dit nie terug in die yskas geplaas is nie.

Dit is ontstellend om mense te sien rondkrap in ander se vullisdrom op soek na iets om te eet. Dit is ontstellend om by die hoek van die straat ’n tengerige mens te sien bedel.

Ons kan nie almal help nie. God verwag dit ook nie van ons nie, maar die snytjies brood wat in die asblik beland kon met ’n paar hale botter of konfyt die man op die hoek van die straat se maag gevul het om nie eers van die honger kinders pouse by die skool te praat nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat U vir ons sorg elke dag met dit wat ons nodig het…Amen