ToekomsVenster: Visie laat jou toe om jouself te wees


ToekomsVenster-3-voorblad

Die ToekomsVenster stiltetyd-dagboek. Foto: Verskaf.

Lees Romeine 12:3-8

Dit was Paulus hier met ons deel, behoort almal wat met erns luister te oortuig dat daar geen rede vir vergelyking en mededinging in die liggaam van Christus is nie. Dit is baie duidelik dat ons, as lede van Christus se liggaam, elkeen ‘n unieke funksie het. Om daardie funksie te kan vervul het God ons elkeen genadegawes gegee. Dit is deel van wie jy is, van jou unieke toerusting; dit wat jou in staat stel om jou funksie in die liggaam te vervul; dit wat net jy kan doen. Om dit te ontdek bring groot vryheid, want dit verlos jou van die drang om alles vir almal te probeer wees, om almal tevrede te probeer stel en om ‘n klomp goed te doen omdat niemand anders dit wil doen nie.

Dit help jou om te verstaan dat jy beperkings en toerusting ontvang het. Jou beperkings beteken daar is sekere dinge wat jy nie eers hoef te oorweeg nie, want dit is nie jou rol in die liggaam nie.  Jou gawes bring weer die insig dat daar ander dinge is wat jy goed kan doen; jy het die toerusting daarvoor ontvang. Daarom sal dit ook iets wees wat jy sal geniet om te doen, wat vir jou vreugde sal gee en vir ander baie sal beteken.

As jy weet wat om te doen weet jy dus ook waarvoor om “nee” te sê. Jy kan dan daarop fokus om die dinge te doen waarvoor God jou in die wêreld ingebring het. Omdat jy fokus, kan jou bydrae ook ‘n groter verskil in die koninkryk maak. Dit sal ook verhoed dat jy te veel dinge probeer doen en sodoende eintlik nêrens ‘n verskil maak nie en jouself net moeg maak. Hoe meer jy volgens God se bedoeling vir jou leef, hoe beter sal jy jouself leer ken, jou eie uniekheid leer waardeer en die mooi in jouself raaksien – dit wat jy as geskenk van God ontvang het.

  • Wonder jy waar en hoe ‘n mens die stiltetyd-dagboek vir 2015 kan bekom? Jy bestel dit deur vir Drienie te skakel by 011 665 2017 of deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected]. Loer ook gerus in by die webadres: toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.