ToekomsVenster: Voeg jou stem by die engelekore


kerk-koor

Foto: Joergelman/Pixabay.com

Prys die Here! Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel!
Prys Hom, alle engele, prys Hom, alle hemelwesens!
Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle sterre!
Prys Hom, hoogste hemele, en waters in die hoë hemelruim.
Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel. – Psalm 148:1-4 en 13

Die woordjie prys kom meermale in hierdie kort psalm voor. Dis baie duidelik waaroor dit vir die digter gaan. Die God van die hele geskape werklikheid moet deur alles, letterlik alles, erken, geloof en geprys word. Selfs die mense in hoë posisies moet sy absolute en soewereine heerskappy erken deur aan Hom alleen die eer te gee.

Hy is die Skeppergod, onderhouer van alles van die begin af. Hy is met hierdie wêreld op pad na sy bestemde einde. Niks gaan daaraan verander nie. Hy is nie onbeslis met wat Hy met hierdie wêreld in gedagte het nie. Geen gebeurlikheid vang hom onvoorbereid of verras hom nie. Hy is God. Sy Naam (vers 13) alleen is verhewe, sy majesteit, aanspraak strek oor die hele aarde en die hemel. Alles op die aarde en alles in die hemel moet aan Hom die erkenning gee. Hy is merkwaardig.

Die verrassende is dat dit nie ʼn gedwonge teen-die-gewete-in-onderwerping aan ʼn despoot is soos dit dikwels gaan in hierdie wêreld nie. Alles kan getuig van sy vaderlike sorg en omgee. Dis vir niemand moeilik om aan die God wat alles onderhou eer en lof te bring nie.

Jy is ingesluit by hierdie simfoniese oproep. Voeg jou stem by die engelekore. Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Ek werk tans in Saudi Arabia, soos julle bewus is, is dit maar moeilik om Christenskap hier uit te oefen.
Ek wil vir julle hartlik dankie se vir hierdie blad. Ek sit elke more na my rotiene en lees die nuus (Lekker Afrikaans), en dan vind ek rus, vrede en krag in die dagstukkies… Ek en my skoonpa gesels daagliks, somtyds in verskriklikke diepte, oor die deel van die dag.
Ek het vandag se stukkie gelees en die aanhaling kon ek die verheffing van my stem amper nie beheer nie. Die begeerte om die Lof en Prys uit te beul vir die wereld. Die innige liefde wat ek het vir God.
Dit mag dalk dikwels voel asof die dag stukkies op dowe ore val, maar ek is julle innig dankbaar dat julle vir mense soos ek die Woord deel wat nie altyd dit maklik kan bekom nie. Mag julle die seen van God almagtig ontvang en mag dit julle die freugde gee wat julle ook vir my gee.

lettie ·

Ek put ook baie genot uit hierdie daaglikse stukkies. Dis heerlik om dit te lees en baie insiggewend. Doen so voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.