ToekomsVenster: Voetstappe van dié wat goeie nuus bring

(Foto: Daniel Schludi/Unsplash)

En: “Prys die Here, alle nasies! Loof Hom, alle volke!” – Romeine 15:11

Die uitroeptekens aan die einde van hierdie twee frases is betekenisvol. Dit is beide ʼn uitnodiging en opdrag.

God se bedoeling was van die begin af duidelik. Abraham word geroep om ʼn seën te wees vir die nasies. Dwarsdeur die ou Testament tot by die laaste bladsy van die nuwe het God se hart nog nooit verander nie. Dié boodskap is vir almal bedoel. (Gen.14)

Ons wil ons somtyds verbeel dat daar kategorieë van aanvaarbaarheid is by God. Sommige mense is ietwat belangriker as ander, maar niks kan verder van die waarheid verwyderd wees nie.

By God is daar nie minder en meer aanvaarbaar, kosbaar of waardevol nie. God se bedoeling met die armstes en sy bedoeling met die rykstes is een en dieselfde ding. God kyk na ʼn gegradueerde en straatveër op presies dieselfde manier.

God droom dieselfde drome oor ons. Daar is geen verskil nie en alles is genade, onverdiende guns alleen.

Dat ek wel my potensiaal kon bereik of in die proses is om dit te bereik, is ʼn gawe. Ek het geen aandeel in nog my hier wees, my taal, kultuur of posisie nie. Ek het nie toutjies getrek om in ʼn Afrikaanse huis gebore te word nie. Ek het met die feit dat ek in ʼn ryk gesin groot word of grootgeword het, niks uit te waai nie.

Inderdaad, met die oog daarop dat ek vanuit my posisie van geseënd wees, met ander sal deel, myself sal beskikbaar stel en diensbaar maak.

Is ek trots op my herkoms en wat daarmee saamgaan? Sonder twyfel. Mag ek dit koester en in stand hou? Uiteraard mag ek. Maak dit my beter as enige iemand anders? Nie eers ʼn klein bietjie nie.

Paulus sê “hoe lieflik is die voetstappe van hom wat die goeie nuus aan ander bring”. (Jes.52:7)

Ons almal is deel van daardie voetstappe. Daar is ʼn wêreld wat wag om die boodskap te hoor.

Hoe stuur die Here jou sodat die nasies Hom kan loof en prys?

Eendag voor sy troon sal ʼn menigte mense versamel wees, van elke nasie, taal, kultuur. (Openb.5:9) Wat ʼn vooruitsig!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.