ToekomsVenster: Volg Jesus se voorbeeld

teeliggies-kersliggies-kerse

Foto: Pexels/Pixabay.com

My hele wese sê: “Here, wie is soos U wat die swakke bevry van dié wat sterker is, die swakke en die arme van dié wat hom beroof?” – Psalms 35:10

Dit is baie moeilik om nie ontsteld te wees oor uitsprake wat sommige politici oor die afgelope tyd gemaak het nie. Dis asof mense nie kan klaar maak met die verlede nie, maar die verhaal van vooroordeel, agterdog en verdeeldheid met entoesiasme aanblaas.

Dit is meer as ooit nodig dat Christene in Suid-Afrika hulle deur die Gees van God laat lei en nie toelaat dat hul natuurlike ingesteldheid die oorhand kry nie. Baie van ons redeneer dat genoeg, genoeg is en dat dit onredelik is om soveel kritiek en vergeseling te moet verduur.

As politici ʼn baanrekord het waarna hulle kan verwys wat respek en agting by ʼn mens afdwing, kan ʼn mens nog sê dat die mense wel ʼn saak het. Ongelukkig is die teendeel waar.

Menige gemeenskappe val uitmekaar en van beloftes kom daar niks. Dieselfde mense wie se belange met gevaarlike uitsprake sogenaamd verteenwoordig word, word deur dieselfde mense se optrede, selfsug, eiebelang en korrupsie benadeel. Miljoene mense slaap honger saans en tog word die hand wat die massas voed, met mening weg geklap.

ʼn Mens sou hoop dat die massas onderskeiding aan die dag lê en wanneer dit by die uitbring van ʼn stem kom met verantwoordelikheid optree. Ongelukkig is dit nie die geval nie, dieselfde mense word weer en weer in posisies van invloed verkies. En terwyl hulle met hul persoonlike agenda van selfverryking voortgaan, raak gemeenskappe net al hoe dieper in die ellende.

Niks wat ek hier geskryf het, is nuus nie. Dit is deel van ons daaglikse dieet in Suid-Afrika.

Hoe wil die Here hê moet kinders van God in ons land optree?

Uiteraard is daar kinders van die Here onder alle gemeenskappe in ons mooi land. Tog is daar selfs onder kinders van die Here vooroordeel, agterdog en vrees teenoor mekaar.

Hoe vorentoe? Is daar ʼn vorentoe? Is daar ʼn toekoms vir ons en ons kinders en ons kleinkinders in ons eie Suid-Afrika?

Om terug te kom by ʼn vroeëre opmerking wat ek gemaak het. As daar ooit ʼn tyd was waarin gelowiges met geloofsonderskeiding sal moet optree, is dit juis nou.

Jesus maak dit nie altyd vir ons makliker nie. Ons voel meer gemaklik met terugbetaal, terug beledig en sleg sê, en om vingers van veroordeling na mekaar te wys.

Dis egter nie hoe die Here ons leer nie.

“Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ʼn kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.” – Matteus 5:39-41

Dit beteken nie dat Christene ruggraatloos deur die lewe gaan nie. Dit beteken nie dat Christene Gods water oor Gods akker laat vloei nie.

Christene tree egter stylvol op. Ons betaal nie in eie munt terug nie.

Ons volg die voorbeeld van ons mentor, Jesus Christus.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anrich ·

Rakende die peiling – as my voorvaders bereid was om hul lewens neer te lê vir Suid-Afrika, wie is ek dan om te vlug? Wie is ons om ons baggasie op te pak en te besluit wanneer om op te hou veg vir vryheid en soewereiniteit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.