ToekomsVenster: Volg net God se leiding


gebed

Argieffoto.

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg.  Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. – Lees Psalm 32:8

God is nie onbeslis in waarheen Hy met ons elkeen op pad is nie.  Sy planne en bedoeling vir ons lewens is goed en tot ons voordeel. (Jer. 29:11)

Soms lyk dit asof God t.o.v. ons lewensreis en ervaring beheer verloor het, asof sy wysheid Hom in die steek gelaat het.  Soms wil ‘n mens Hom tot orde roep en vra of Hy dan nie kan sien dat die uiteinde van die pad waarop jy jouself bevind in chaos gaan eindig nie.  Josef het seker by meer as een geleentheid gewonder of God nie van hom vergeet het nie.

Hy weet altyd beter, Hy vra nie raad nie en konsulteer nie met enige iemand nie.  Hy vra ons ook nie wat ons van sy leiding dink nie.  Hy vra nie vooraf ons instemming nie.  Hy roep ons op om Hom mateloos en reserweloos te vertrou.

Vir hulle wat God liefhet werk alles ten goede, so staan dit geskryf.

Somtyds kan ons so eiesinnig wees, niemand kan ons van stryk bring nie.

Selfversekerde mense is gedoem tot mislukking.

Afhanklike en nederige mense wag op die Here en vertrou Hom ongeag of dit sin maak of nie.

Daar is baie voorbeelde van klaarblyklike onsinnighede in die Bybel.  Moses met sy staf is ‘n goeie voorbeeld.  Hy gooi dit op die grond neer en dit word ‘n slang, hy strek dit oor die water uit en dit kloof ‘n pad.  Hy slaan op ‘n klipharde rots en daar kom water uit.

Dit maak geen sin nie, rasionele mense sukkel om dit te glo.

God heers oor alles en almal en kan doen wat Hy Hom voorneem om te doen.  Ons moet net sy leiding volg.  Hy staan self in vir die geloofwaardigheid van sy Woord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.