ToekomsVenster: Volgelinge van Jesus

(Foto:
Ümit Bulut/Unsplash.)

Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie. – Rom. 13:13-14

Om aan ’n bepaalde groep te behoort en met hulle geassosieer te wees, is gewoonlik ’n trotse aangeleentheid. Dink maar aan skole en die wyse waarop van leerders verwag word om op te tree.

As jy jou skoolklere aan het veral is die verantwoordelikheid soveel groter. Mense kan jou herken as iemand wat aan daardie besondere skool behoort en derhalwe op ’n sekere manier moet optree. Die skool en sy naam, ook die ander leerders wat daarmee identifiseer mag nie in diskrediet gebring word nie.

Om daardie standaard te oortree word gewoonlik in ’n baie ernstige lig beskou en jy loop selfs die gevaar om geskors te word. Dit is voorwaar ’n hartseerdag as so iets gebeur en strek die oortreder nie tot eer nie. Die kans dat hy in ’n ander skool toegelaat sal word, word ook betrek.

Ons as gelowiges behoort eweneens aan ’n uitsonderlike samelewingsverband. Dit word die huisgesin van God genoem. Plaaslik neem dit die vorm van ’n geloofsgemeenskap aan. Dit kring uit na kerkverband, uiteindelik die huisgenote van die geloof. Jesus noem dit die koninkryk van God. Ons is daarvan burgers, inwoners en dankbare lede.

Op ons rus die verpligting om nie die geloofwaardigheid en goeie naam van daardie instelling, organisme, negatief te beïnvloed nie. Dit gaan soos reeds aangedui nie net oor ons nie, maar oor almal wat daarmee identifiseer. Uiteindelik gaan dit oor die Een wat aan daardie gemeenskap beslag gegee het en die prys wat Hy daarvoor betaal het.

Om willens en wetens die goeie naam van die Koninkryk en die God met wie dit in verband staan onverskillig en belangeloos te hanteer is onverskoonbaar.

Dit is ’n verhewe roeping waaraan ons deel het. Ons mag vir mekaar nie ’n struikelblok wees nie. Ons mag ander se toetrede nie belemmer deurdat hulle besluit dat hulle met die kerk, die Gemeente, ja Christus en sy Woord niks te doen wil hê nie. Ons het mos almal al gehoor – as dit is hoe Christene optree wil ek nie een wees nie. Toegegee, dit word somtyds onregmatig en onregverdig ander toegesnou. Ongelukkig egter is dit somtyds waar.

Mag die Here ons help om sy Koninkryk nie oneer te berokken nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.