ToekomsVenster: Volhard in die gebed!

skemer-sonsondergang-boom-landskap-deur-juanita-badenhorst-2018-06

Foto: Juanita Badenhorst.

Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar. – Kolossense 4:2

Dankbaarheid is so ʼn vername aspek van gelowiges se lewens en tog leef soveel mense onvergenoegd en essensieel ondankbaar en arrogant teenoor God. Ons kla gedurig oor wat ons nie het nie en wat ons moet opoffer. Ons vergelyk onsself met ander en voel dat God ons nie so goed behandel soos vir ander mense nie. Ons verwyt God omdat Hy nie antwoord soos ons Hom dit voorskryf nie en omdat Hy nie betyds ingryp nie. Dis die manier waarop ons leef en praat. Die swaarmoedigheid hang soos goedkoop juwele om ons nekke en beroof ons van vreugde.

Ons vergelyk uiteraard “boontoe”. Dit gebeur min dat ons in die rigting vergelyk van hulle wat nie het wat ons het nie. In ʼn land wat gebuk gaan onder werkloosheid en gepaardgaande armoede, by verre die meeste mense in Suid Afrika leef in desperate armoede, is ons ontevredenheid aanmatigend en arrogant. Met geriewe in ons huis, genoeg vertrekke dat ons hulle selfs benoem, tuine wat voorsiening maak vir vriende onthaal, toesluit motorhuise terwyl miljoene mense in ons land hul een vetrek “kaias” met ʼn swaar slot teen vreemde elemente moet beskerm. Mense wat leef onder onhigiëniese omstandighede waarin vroeë kinderontwikkeling ʼn luukse is, waar enkelouers die norm is, waar “child headed” families nie onbekend is nie.

Ons kinders is bederf en bevoorreg en uiteraard gun ons vir hulle die beste. Maar geld dit nie vir alle die kinders van ons land nie. Waarom sou dit nodig wees dat sommige van hulle saans op straat bedel vir iets om te eet sodat hulle nie honger gaan slaap nie?

Ek sê nie hierdie dinge om te verwyt nie. Ek sê en skryf dit om ons ondankbaarheid in perspektief te plaas. Die meeste van ons het bitter min rede om ondankbaar te wees. Ondankbaarheid is sonde en verkeerd.

Dank pas by gelowiges. Oorvloedige dank.

“God vorm die wêreld deur gebed. Hoe meer gebed daar in die wêreld is, hoe beter sal die wêreld wees, hoe sterker die magte teen die bose …” ~ E.M. Bounds

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.