ToekomsVenster: Volharding

swem-volharding-oefen

Foto: Alex Guillaume/Unsplash.com

Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. – Jak. 5:7-8

Die nuwe Testamentiese gelowiges het ʼn verwagting gehad dat Jesus selfs binne hulle leeftyd sou terugkom. Jakobus sluit by daardie verwagting aan. Uiteraard kan “dan kom die Here” ook metafories verstaan word, veral vir ons wat honderde jare aan die anderkant van Jakobus se skrywe leef.

Inderdaad is die Here se koms ʼn werklikheid en moet dit in geloof afgewag word. Ons staan dalk skuldig dat ons so ingegrawe is in die hier en nou, dit wat bekend en geliefd is dat ons nie regtig ʼn lewende wederkomsverwagting het nie. Dit terwyl die Bybel ons verseker dat Jesus weer kom. Dink aan die hemelvaart en die belofte van Jesus se terugkeer. Die Woord sê beywer julle vir die wederkoms van die Here.

  • 2 Petrus 3:12 – Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor.
  • 1 Petrus 1:13 – Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.
  • 2 Petrus 3:4 – en sê: “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af.”
  • 2 Petrus 3:9 – Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

Openbaring sluit af met ʼn roep na die wederkoms, “Maranatha, kom Here Jesus”.

Soos reeds gesê het die teks ook ander betekenis. Die Here het sy tyd. Ons dink ons weet maar God weet sonder twyfel. Die woordjie “wag” is daarom baie belangrik. Wag kom nie natuurlik nie. Dit is inspanning om te wag. Dit vra dissipline, geloof en volharding. Dit vra vertroue in die waarheid dat die Here beste weet. Soos in die verlede is Jakobus gereed met ʼn praktiese voorbeeld.

Boere ken die kuns van wag. Vandat die saad geplant is selfs net totdat die eerste bewys dat daar lewe is na vore tree is al senutergend. Mens weet nie wat onder die grond gebeur nie. Daar is allerlei vreemde invloede wat onder die grond werksaam is en die ontkieming kan belemmer. Al wat die boer kan doen is om te wag. Dan, as die eerste tekens van lewe daar is totdat die plant tot wasdom gegroei het en vrug voortbring, het ʼn tydsverloop weer gebeur. So is dit in die geloofslewe. Dis die een vaardigheid wat ons eerder gouer as later moet bemeester.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SNEL ·

1 Kor 10:12 Daarom, wie meen dat hy staan moet oppas dat hy nie val nie. As jy sterk staan kan jy dit vat as sommer los woorde, maar ek het dit al sien gebeur. Bitter gevaarlik! Ons moet bid vir mede gelowiges om nie te val nie, die Satan loop rond soos n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind en geen een is gevrywaar nie. Ons moet vasstaan en die wedstryd hardloop tot die einde met volharding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.