ToekomsVenster: Voor alles was Hy al daar

(Foto: @myuniverse_chloe/Unsplash)

 “U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande. – Hebr.1:10

Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! – Ps.90:1-2

Wanneer ons oor God nadink kom sy onbeperkte bestaan ter sprake. Sy bestaan kan nie in terme van tyd gemeet word nie. Hy was altyd daar en sal altyd daar wees.

Onverstaanbaar, maar waar. Die vraag, waar kom God vandaan, is ʼn vraag wat nie beantwoord kan word nie behalwe vir dit wat ons reeds gesê het; Hy is sonder begin en sonder einde, die alfa en die omega.

Die Bybelverhaal begin immers met: “In die begin het God die hemel en die aarde gemaak”. Wanneer was hierdie begin? Die kinder-Bybel help ons dalk ʼn bietjie: “Heel aan die begin was net God daar. Toe het Hy die hemel en die aarde gemaak”.

Die weergawe stel God se ewige bestaan as ʼn feitelikheid voor. Voor alles was God.

Kolossense 1:17 – Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.

Joh. 1:1-3 – In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

Sjoe, luister na die Boodskap vertaling: In die begin van alle tyd het God die hemel en die aarde gemaak. Voor die skepping was alles eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: “Laat daar lig wees.” Skielik was daar oral lig.

“God was egter daar en Hy het gesê – laat daar lig wees, Skielik was daar oral lig”.

Wat ʼn vertroostende waarheid – God spreek een Woord, ʼn Skeppingswoord, ʼn Almagswoord, ʼn genadewoord en lewenswoord en die duisternis, metafoor vir wanhoop gee pad en die wêreld word verlig.

Die duisternis kan en sal God nie oorweldig nie. Hy het mag oor die duisternis, ook die duisternis in ons lewens wat telkemale dreig om ons te oorweldig. Die graf, metafoor vir duisternis, moet vlug voor hierdie aankondiging van lewe en lewensin- laat daar lig wees en daar was, en is, en sal vir altyd lig wees.

Hier is die pad:

Wanneer julle die pad byster raak, sal julle sy stem agter julle hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.” – Jesaja 30:21

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.