ToekomsVenster: Voorraadopname


Foto: Juanita Badenhorst.

Jesaja 1:18 – “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”

Besighede veral ken die belangrikheid van voorraadopname. Dikwels maak besighede hul deure toe en bied verskoning aan dat normale funksionaliteit onderbreek word met die oog op die jaarlikse voorraadopname. Items word getel – wat op die rak is, word vergelyk met wat op die voorraadlyste is.

Diskrepansies word ondersoek en verklarings word gesoek. Items wat op die rak bly staan en nie verkoop nie, word geïdentifiseer en besluite word daaroor geneem. Die vergelykings is legio.

Jaareinde is só ’n tyd. Tyd vir bestek opneem. Deurdringende vrae vra en eerlike antwoorde soek. Tyd vir die realiteite in die oë kyk en daarmee verlief neem. Tyd van ondersoek en rekenskap sodat die toekoms met groter effektiwiteit tegemoet gegaan kan word.

Dis bykans die einde van 2017. Hierdie jaar gaan nooit, ooit weer herhaal word nie. Elke jaar is eenmalig; trouens, dit is waar van elke sekonde van ons lewens.

Om tot stilstand te kom en eerlike vrae te vra, is ’n belangrike aktiwiteit. Mens strompel tog nie blindelings voort nie. Gedagtig aan voorraad, weet mens tog wat op die rakke is; watter “produk” werk en watter een nie; van watter “produk” meer aangeskaf moet word en watter liefs geïgnoreer moet word.

Om só voorraad op te neem, verg ʼn stuk eerlike manmoedigheid. Die meeste mense ontwyk sulke tye. Hulle voel onveilig met eerlike selfondersoek. Uiteraard moet so ’n besig wees met die self nie in iets onbehoorlik ontwikkel nie. Mens kan selfbehep wees, en dit is nie waarvan ons praat nie. Nee, net ’n eerlike pad wat saam met die Here gestap word en om, waar nodig, aanpassings te maak.

Dis eerlik, opreg en nodig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.