ToekomsVenster: Voorwaarts mars


all-free-download.com

all-free-download.com

Johannes 3:16 God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Kom ons gee ons volgende tree: Wat is die boodskap wat ek met my saamdra? Kom ons begin by die Bybel. Die evangelie is die verhaal van…

Die Bybel is vol verhale van God en mense. Dit begin by die verhaal van God wat vir hom ’n volk bymekaar roep in die verhale van Abraham en Moses. Dan is dit die rigters (Josua, Gideon en Simson) wat die volk help om in die nuwe land in te gaan. Die volk kla en murmureer dat hulle ’n koning wil hê wat hulle regeer soos die ander volke: Saul, Dawid en Salomo, om ’n paar te noem. Hierna skeur die Noordelike en Suidelike ryk. In 780 v.C. word die Noordelike ryk weggevoer in ballingskap. Wat belangrik is, is dat nie almal weggevoer word nie, maar sommiges agterbly en hulle raak dan deel van die heidense volke wat tussen hulle kom bly. Die Suidelike ryk skeur in 518 v.C. Jerusalem word platgeslaan, die tempel word verwoes, die koning word doodgemaak en hulle word almal weggevoer. Die drie groot geloofsankers (tempel, Jerusalem en die koning) van die Joodse volk is nou weg. Gedurende die ballingskap verlang die volk terug na die beloofde land en dan, onder koning Kores van die Babiloniërs, mag hulle weer terugtrek en Jerusalem herbou. Die probleem het nie daar opgehou nie, want wie gaan nou met die herbou help? Mag net dié wat van die Suidelike ryk oorgebly het (die suiwer Jode) en nou terugtrek, bou of kan die Noordelike ryk se mense (wat nou met ander volke getroud is) die wat nou daar is ook help om Jerusalem te herbou? Hulle is nou nie meer suiwer Joods nie! (Esra, Nehemia)

Indien jy met iemand in gesprek is waar jy die evangelie wil oordra, watter verhaal gaan jy gebruik? Is daar ’n enkele boodskap om te deel? Jy sal natuurlik die stories van ’n Moses, Gideon, Simson, Dawid en ander kan gebruik. Wonderlike verhale van gebroke en stukkende mense (Moses – die onbekende God verskyn aan hom en roep hom om sy volk te lei, ’n stuk gestuurdheid of dalk Dawid wat owerspel pleeg, ’n verhouding wat verbrokkel of dalk Simson wat in sy gebrokenheid sy laaste kragdadige daad pleeg.)

Jy sal kan vertel van God wat met hulle praat, by hulle is, hoe hulle luister na God se stem en boweal sal jy vertel van God wat genade betoon en geduldig is.

Die Bybel se verhaal stop nie in die Ou Testament nie, maar vertel van die geboorte van Christus, sy bediening op aarde, kruisiging, sterwe en opstanding. Dit vertel die verhaal van die Woord wat mens geword en onder ons kom woon het. Die Bybel leer dat net geloof jou red; geen dade, geen werke, alleen geloof red. Dit leer van sondaars wat, as hulle hul sondes bely, vergewe word (1 Johannes 1:9). Dit vertel die verhale van hulp aan armes, moedeloses, siekes, weduwees en wese en Christus wat nie die eerste klip wil gooi oor sonde nie.

Die Bybel vertel van Christus wat vir ons gesterf het aan die kruis. Wat sy eie gebrokenheid bely, Hy wil nie die beker drink nie, tog stap Hy die sterwenspad. Ons lees van sy opstanding. Sy by ons wees deur die Heilige Gees sodat ons nooit weer alleen kan en sal wees nie.

Die Bybel leer ons oor hoe mense mekaar hanteer of dit man en vrou, ouers en kinders, base en slawe is (Efesiërs 5 en 6). Dink net aan al die huistafels wat ons help deur daaglikse praktiese riglyne oor die lewe te gee.

Gebed:

Vader, Christus en die Heilige Gees, dankie vir die Bybel wat ons kan lees, dankie vir die Gees wat ons help om die evangelie te verstaan en Christus te verheerlik. Ons glo in U. Amen.

Leefwyse:

Teken die stories van die Bybel op ’n stuk papier. Vertel hierdie stories vir mekaar. Laat die klem elke keer op iets anders val. Byvoorbeeld: Die een keer is die klem op God se betrokkenheid, die ander op watter mense deel is van die storie. Kyk of jy nie dalk datums kan bysit by die gebeure nie.

Iets om vandag oor na te dink:

Voorwaarts mars vra dat ons nou vorentoe sal begin gaan. Hoe gaan ons dit doen? Kort ons nog kennis of kort ons nog tegnieke om met mense oor die evangelie te praat? As ek vir jou sê “voorwaarts mars” – wat beteken dit vir jou?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.