ToekomsVenster: Vra God vir wysheid

windpomp-sterre-hemelruim-melkweg

Foto: Emily Goodhart/Unsplash.com

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. – Jakobus 1:5

Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. – Spreuke 2:2

Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. – Spreuke 2:6

Elke mens beleef tye waarin menslike wysheid nie deug nie. God gee aan ons onderskeidingsvermoë om oor sake te kan nadink en te redeneer. Alle besluite hoef nie in ʼn intense geloofsoefening te ontaard nie. Ek is nie seker of God ʼn rooi motor bo ʼn blou een verkies nie. Ek weet nie of Hy soveel omgee of ons ʼn tweesitplek of drie sitplek bank koop nie. Dis terloops en word aan ons eie goeie oordeel oorgelaat. Ander besluite het verreikende implikasies vir die lewe. ʼn Verandering ʼn loopbaan bv., ʼn lewensrigting en studiegeleentheid kan so ʼn saak wees. Soveel te meer die keuse van ʼn lewensmaat of selfs geloofsgemeenskap. Die Bybel sê immers ken Hom in al jou wee en Hy sal jou paaie gelyk maak. Dis die God wat ons dien.

Wysheid kom ter sprake wanneer die keuse nie voor die handliggend is nie. Die Bybel is daaroor duidelik. Sekere goed is doodgewoon verkeerd en behoort nie in die lewe van ʼn kind van die Here nie. Dit help nie om daaroor te bid en wysheid te vra nie.

God se wil is reeds geopenbaar. Lees sy Woord en luister na die stem van die Heilige Gees in jou binneste. Dan is daar sake waar die pad voor ʼn mens spreekwoordelike vurk en die aangewese weg nie duidelik is nie. Gideon het die leiding van God selfs twee keer getoets. Maak sover as moontlik is seker. God gee wysheid, sê die teks. Hy gee dit sonder verwyt. Hy eer kinderlike afhanklikheid en geloofsvertroue. Hy praat ook deur die insig en leiding wat ons van medegelowiges kry. Hy praat deur die beloftes in sy Woord. Hy praat deur mense wat ons pad kruis, deur profetiese inspraak, op ʼn verskeidenheid maniere. Die vrede wat God gee moet ons in ons besluite lei, maan die Bybel.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. – Spreuke 3:6

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.