ToekomsVenster: Vra meer

(Foto: Lampos Aritonang/Unsplash)

Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. – Matt.7:7-8

Die Bybel sê “julle het nie omdat julle nie vra nie”. Toegegee, die teks gaan verder om ander fasette van die proses bloot te lê maar dit neem nie weg dat die heel eerste beweging sê ons het nie omdat ons nie vra nie.

Ons kla oor baie dinge wat ons graag sou wou hê. Die vraag is inderdaad, het ons daaroor gebid? Hoe het ons gebid en hoe spesifiek was ons in ons gebede?

As gebed ʼn intelligente oefening is wat die verstand en denke nie uitskakel nie dan moet ʼn mens darem redelik spesifiek wees in jou gebede. As ek en jy nie weet wat ons wil “hê” nie, hoe sal jy weet dat jy dit ontvang het? Ek wil amper moedswillig vra as jy nie weet wat jy wil hê nie hoe moet die Here weet. Hy weet natuurlik alles maar ek probeer ʼn argument uitmaak as jy my dit sal verskoon.

Dit beteken dat ek darem vooraf nagedink het oor die versoek wat ek aan die voete van die Here gaan lê. As ek goed daaroor nagedink het sal ek darem rekenskap kan gee van hoe gewens die item is, watter waarde dit aan my en ander se lewens sal toevoeg, hoe dit die saak van die Here gaan dien, watter getuienis vandaar sal uitgaan.

Mag ʼn mens die Here net vra vir noodsaaklikhede, die absolute minimum, net wat nodig is om te oorleef of mag ʼn mens ʼn wenslysie by die Here hê. Ek is ʼn gewone pa en wanneer my kinders dit laat glip dat hulle darem graag dit of dat sou wou hê doen ek alles in my vermoë om te kyk of ek dit kan laat realiseer. Daar is uiteraard sekere realiteite waarmee ek moet rekening hou maar dit maak my hart baie bly as my kind bly is.

Ek reken dit is nie anders by die Here nie.

Kom ek lê ʼn toets aan – kyk rondom jou na dit waarmee die Here jou vertrou. Hoeveel daarvan is absolute noodsaaklikhede waarsonder jy glad nie sou kon klaarkom nie. Jou motor as voorbeeld. Jy moet by die werk uitkom maar moet dit in soveel weelde en gerief wees? Hoor my mooi, ek probeer jou nie skuldig laat voel nie, inteendeel. Ek wil hê dat jy sal raaksien hoe oorvloedig die Here uitdeel. Dit geld nie net van my motor nie, my hele werklikheid getuig van God se bederf.

Ons mag maar vir die Here vra en Hy mag maar nee of later sê, maar feit van die saak is dat as jy nie met die Here daaroor gepraat het nie, mag jy nie kla dat dit jou ontbreek nie of wat sê ek alles?

Vra hierdie jaar meer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.