ToekomsVenster: Vrae wat bereid is om die pad na verstaan te loop


Vertroue

Foto: Reint Dykema.

Psalm 74:1 – “Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot? Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort?”

Vrae kom algemeen in die Psalms voor. Daar is nie fout met goeie vrae nie. Vrae wat bereid is om die pad na verstaan te loop.

Die wêreld is stukkend. Die wêreld waaraan ons deel het beleef toenemende chaos. Nuusopsommings op TV vertel van ʼn mensdom wat die spoor byster geraak het. Dis maklik om deur die oënskynlike troostelose situasie op sleeptou geneem te word, perspektief te verloor en te begin twyfel. Is Jesus regtig wie Hy sê Hy is en het Hy die antwoorde en oplossings wat nodig is vir hierdie wêreld se probleme? Kan en gaan dinge verander of moet ons maar saam met hierdie skippie seil totdat dit klaar gesink het. Moet ons nog koerante lees as dit ʼn mens so ontstel? Het God nie ook opgegee met hierdie wêreld nie? Niemand sou Hom dit verkwalik nie, of hoe?

Waarom Here? U is tog groter as die grootste uitdaging. Dis een woord, ʼn geringe beweging van u hand, selfs net ʼn gedagte wat die wêreld terug kan bring na u skeppingsbedoeling.

Op baie vrae is daar nie klinkklare antwoorde nie. Geloof beteken om te glo al sien en ervaar jy nie. In sulke tye is dit nodig om terug te keer na wat jy weet en glo en waarvan jy die getuienis in jou hart ronddra. God leef en is goed. Hy gee om, die kruis is ʼn klinkklare bewys daarvan. Hy het nie beheer verloor of opgegee met hierdie wêreld nie.

Dis ook ʼn tyd waarin ʼn mens moet vra hoe die Here jou wil toerus en gebruik om ʼn antwoord te wees op die vrae wat jy vrae. Ons gesindheid moet wees: “Hier is ek Here, stuur my.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Soekie ·

God is groot en Almagtig. Hy het my persoonlik na Hom toe geroep deur in my lewe te werk. Ek dank Hom daarvoor, dat ek waardevol genoeg is vir Hom om my te roep. Ek beleef GROOT hartseer maar glo dat alles ten goede sal meewerk deur Hom. Here ek loof U!!

louis ·

Môre Soekie! Kan ek jou hartseer met jou deel? God sê dra mekaar se laste en vervul so die wet…wanneer jy vir my n deel gee dan is die helfde reeds van jou af. Geseënd dag!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.