ToekomsVenster: Vrede, nog ʼn waarde vir ons tyd


vrede

Foto: Argief.

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. – Lees Filippense 4:4-9

Jesus se nalatenskap waarvoor Hy gesterf het, is die vrede waarvan Johannes 14:27 praat.  Die vrede van die wêreld is die vrede van selfbehoud in die lig van aardse mag.

Jesus se vrede is die vrede met die Koning van die heelal. Dit werk op ’n ander vlak as die vrede van mense.  Dit het ’n ander perspektief op die lewe.  Wat sien jy raak as jy na jou eie lewe kyk?  Watter maatstaf gebruik jy in die beoordeling van wat met jou gebeur?  Jesus wil dat jy deur die oë van God sal kyk, want jy is mos kind van God.  Dan lyk die aardse dinge skielik nie meer so belangrik nie.  Wat God van jou dink en hoe jou verhouding met God daar uitsien, word skielik die belangrike vrae in jou lewe.

Dit is daardie volheid van lewe wat alleen van Hom kom.  Dit is ’n lewe van vrede en gemoedsrus, van kalmte van gees.  Dit is ’n lewe wat bestuur word deur die Heilige Gees.  Dit is ’n lewe van vervulling.  As jy jou aan die heerskappy van Jesus Christus onderwerp en binne die wil van God bly, sal jy net die beste ontvang wat die lewe bied.

Vrede is dan iets wat jy doen en ervaar en wat jy weggee.  Suid-Afrika het baie vredemakers nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tina ·

Amen..Absolute waarheid…in hierdie onsekere tye en geweld; verval van morele waardes; moet elke lewende siel, Jesus Christus sy skuilplek maak en is dit dan ook my gebed vir my en my medemens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.