ToekomsVenster: Vreugde ʼn kenmerk van gelowiges


hand-in-son-galleryhip-com

Argieffoto.

Al julle volke, klap julle hande;  juig tot eer van God met ‘n jubelende stem, want aan die Here, die Allerhoogste, kom eerbied toe;  Hy is die Groot Koning oor die hele aarde. – Lees Psalm 47:2,3

God is ʼn vrolike God.  Hy hou van musiek en omring Hom met lofsange en aanbidding.

Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was.  Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê:  “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” (Openbaring 4:8)

God woon onder die lofsange van sy kinders.  (Psalm 22:4)

Dit beteken jy vind God veral daar waar Hy aanbid word.

In gesprek met die Samaritaanse vrou word die Gees betrek.  Ware aanbidding geskied deur die openbaring en onder begeleiding van die Heilige Gees.

Johannes 4:23 – Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.  Daarom kan ons onderskei tussen aanbidding wat God inderdaad verheerlik en oppervlakkige handelinge wat niks beteken nie.

Om God onnadenkend en sonder eerbied te aanbid is betekenisloos en gee Hom aanstoot.  Hy handel nie “terloops” met ons nie.  Hy neem ons ernstig op en sy handelinge bevestig dit.

Vreugde is integraal deel van ons lofsange.

Ek onthou in die begin jare toe die sg. meer tradisionele kerk haar aanbiddingshandelinge begin vernuwe het hoeveel opstand en kritiek daar was.  Die bordjie buite die kerk wat maan vir stilte aan die een kant en die vrolike kitaar, klavier en selfs trom klanke het vir sommige te ene male net nie gerym nie.

Dis jammer dat ons nie hierdie Psalm raakgelees het nie.

Die volke word opgeroep om hande te klap, te juig, jubelend te sing en te vertel van God se reddingsdade.  Immers, Hy is die Groot Koning wat heers oor die hele aarde.

Vreugde is een van die onderskeidende kenmerke van gelowiges.  Paulus maan ons om altyd bly te wees in die bekende Fil. 4:4.

Die wyse waarop die ou Testamentiese gemeente haar lof en aanbidding organiseer het, uitdrukking gegee het aan haar lofbetuiging, onder trompetgeskal en die hallelujas uitroepe van die versamelde gemeente, moes aansteeklik gewees het.  (Lees onder andere 1 Kronieke 25)

Kom ons vind vreugde in ons kindskap en geborgenheid en verkondig ons geloofsvertroue en liefde vir God luidkeels in ons lofverheffing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.