ToekomsVenster: Vriende, broers, kollegas en medewerkers van die lewende Christus


vriende-01

Foto: Playbuzz.com

Soos die oë van ʼn slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ʼn slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm. – Psalm 123:2

Die erediens is ʼn amptelike gebeurtenis. Wat ek daarmee bedoel, is dat dit in die Naam van die drie-enige God wat teenwoordig is, gekonstitueer word. So begin alle vergaderings mos maar. Die instrument waarmee die erediens se begin aangekondig word, word ʼn votum genoem. (Dis veral in die hoofstroomkerke die geval. Die openingsgebed aan die begin van ander geloofsgemeenskappe se samesyn dien maar dieselfde doel.)

ʼn Votum is meermale ʼn teksgedeelte uit die Bybel wat vir die doel ingespan word. Dink maar aan Psalm 121:2: Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Diegene van ons wat effe ouer is, sal dié gewilde votum by die konstituering van eredienste onthou:

Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres – so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is. – Psalm 123:2

Dis ʼn pragtige gebed van afhanklikheid en aangewesenheid op die God van die Bybel. Nuwe-Testamenties is ons nie meer slawe nie maar vriende, broers, kollegas en medewerkers van die lewende Christus wat onder en deur ons teenwoordig en werksaam is. Dit getuig van ʼn gewilligheid om deur Hom geleer en begelei te word. God se ontferming is ʼn groot werklikheid. Dit word kragtig aan die kruis van Golgota gedemonstreer. Dit herinner my aan die woorde van Romeine 8:31: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?

Terloops, ek lees hierdie mooi openingsgebed iewers raak:
“Soos ʼn blom na die son draai; soos riviere na die see loop; soos ʼn boom na die hemel reik; soos skape agter hulle herder aanloop – so rig ons ons hart op die Here. Rig julle hart op die opgestane Here!”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CQ ·

….en tog behandel ons ons werkers nes ons goeddink. Praat lelik. Skree en gil as iets verkeerd gedoen word….
Hoe wil JY behandel word deur JOU MEESTER?

Dina van Niekerk ·

Naomi :
Dis altyd opmerklik hoedat daar rustigheid oor die gemeente kom wanneer die Votum of Openingsgebed plaasvind. So asof daar in nederigheid ‘n verwagting is van wat die Here se Boodskap gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.