
Foto: Unsplash/Pexels.com
“As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. ‘Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel’.” – Johannes 15:10-14 (AFR83)
Jesus se vriendskap met ons word gemotiveer en in stand gehou deur liefde, die liefde wat Hy vir ons het – sy ondergeskiktes, maar nou sy vriende.
Vriendskap met Jesus dra die teken van liefde en word gekenmerk deur liefde.
Die vraag is: Hoe het Jesus lief? Die antwoord is: Onvoorwaardelik, onverdienstelik en onbepaald.
Jesus het nie van ons verwag om eers te verander voordat Hy ons kon liefhê nie. Liefde verander, langsamerhand, geduldig en met deernis.
Jesus het geen voorwaarde gestel nie, behalwe dat ons op sy liefde, so oorweldigend soos wat dit is, sou reageer deur in wederliefde te antwoord.
Niemand kan daarop roem dat ons die liefde en vriendskap van Jesus verdien het nie.
Daar is geen meriete by God nie.
Ons staan skaam en naak voor sy hoë majesteit.
Bewend omdat ons nie weet hoe God met ons sal handel nie, totdat Hy sy hand na ons toe uitsteek en ons nader nooi.
Liefde verander mense.
Soos God se liefde ons verander het en steeds verander, so sal die liefde wat ons teenoor ander mense bewys, hulle verander.
Liefde kan nie konsekwent weerstaan word nie.
Mense swig voor liefde, jy staan weerloos daarteenoor, jou verdediging krummel en jou weerstand verbrokkel.
Daar is geen ander uitweg nie – liefde, met name God se liefde – oorwin harte.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.