ToekomsVenster: Vrug van ander se arbeid

ATTACHMENT DETAILS graan_Stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid. – Joh. 4:38

Geen saai en oes vind in isolasie plaas nie. Die hele proses het gevolge wat ver in die toekoms sal en gaan uitspeel.

Dink aan die bekende tien gebooie. Die teks lui:

“Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam”.

Die bedoeling is seer sekerlik nie dat ʼn mens betaal vir ander se sondes nie. Wat die teks wel sê is dat wie in die spore van ongeregtigheid voortlewe die wrange vrugte daarvan sal insamel.

Die woorde “die wat my haat” is belangrik.

Wie egter verbondsmatig gelowig en dankbaar op die pad van die geloof bly sal ʼn heilsame oes in hul eie tyd en vir komende generasies verseker, vandaar die woorde, “die wat my gebooie gehoorsaam en My liefhet”.

Daar is soveel voorregte en seëninge wat ons vandag geniet wat deur ander se opofferinge, gehoorsaamheid en optrede spruit.

Dink aan die mense wat onvermoeid op die akker van die Here gearbei het. Ons geniet vandag die vrug daarvan.

Bybelvertalers, predikers en geloofspioniers, asook die mentors van ons geloofslewe en die helde van die geloof.

Dit geld eweseer van gelowiges sedert Bybelse tye. Dink aan Paulus en sy nalatenskap.

Dit is so dat die besluite wat ons vandag maak eweneens ʼn invloed sal hê op die mense rondom ons, hulle wat nou deel van ons verwysingsraamwerk vorm, maar ook toekomstige geslagte.

Dink byvoorbeeld aan die hartseer wat ʼn onvriendelike opmerking in die lewe van ʼn sensitiewe persoon tot gevolg kan hê. Daar kom ʼn gevoel van minderwaardigheid wat daardie persoon se optrede kenmerk tensy daar genesing kom. Daardie minderwaardigheid word op ander geprojekteer, oorgedra, ander word daarvoor verantwoordelik gehou, die gevolge kan baie skadelik wees.

Dalk is daar wysheid in die woord wat sê dat ons moet dink voordat ons sê en doen.

Hoeveel verwondes is daar nie langs die pad van die lewe nie?

Hoe onnodig en hartseer is dit nie.

Dalk is jy die produk van so ʼn onsensitiewe opmerking of skadelike daad.

Die goeie nuus is dat jy nie vir die res van jou lewe onder daardie wolk hoef te lewe nie.

“Kom nou na Hom wat redding U bied

Hy het Sy Bloed vir sondaars vergiet

Hoor na Sy roepstem kom”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.