ToekomsVenster: Vrugte wat hou

(Foto: Bushwise.co.za)

Kol.1:9-10 – Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.

Hoe sou ʼn gebed vir jouself met betrekking tot geestelike groei daaruitsien? Ek wonder of die gebed wat Paulus vir die gemeente in Kolosse bid, dalk jou gebed opsom.

Wysheid en insig wat die Gees gee, om God se wil duidelik ken, tot eer van die Vader leef, nougeset doen wat Hy van jou vra, oorvloedige goeie werke en ʼn toename in openbaringskennis van God.

Sjoe, dit is genoeg om ʼn mens ʼn leeftyd besig te hou.

Die geestelike lewe is inderdaad ʼn lewenslange reis saam met God die Heilige Gees. Hy het ʼn unieke bloudruk vir jou lewe en jy kan Hom vertrou dat Hy dit in jou na vore sal laat tree. Die Gees is soos die Vader en die Seun lankmoedig en weet dat die vrug van die wedergeboorte nie oornag verskyn en rypword nie.

Soos ʼn vrugteboom wat geplant word, vol belofte is, moet ʼn mens geduldig wag dat die plant sodanige wasdom bereik dat dit vrug dra. Soos ek vrugtebome ken dra dit as alle ander faktore ideaal is elke jaar meer en meer, selfs beter en beter vrugte.

Somtyds afhangende van die seisoen dra dit selfs geen vrugte nie, ander kere teleurstellende vrug. Somtyds word dit infekteer en is die vrug bederf sodat dit nie gebruik kan word nie.

God is egter bobaas landbouer en as jy Hom vertrou sal Hy sorg dat vrug op die bestemde tyd daar is. In die hemelse Jerusalem dra die bome sonder ophou. Dit is die ideaal waarna ons smag en op weg is. Ja, vrugtebome word ook gesnoei ten einde te verseker dat die krag nie in lewelose takkies wegraak nie.

Kom ons som net weer die vrug op waarna Paulus verwys.

Wysheid en insig, die gawe van die Heilige Gees. Kennis van sy wil soos Rom.12 ons leer. ʼn Lewe wat toegewy is aan die wil van God, immers so bid ons in die Ons Vader, nie waar nie. Vrugte wat by die bekering pas en sal hou leer die Woord.

Ons is gered om ons te wy aan die goeie werke waarvoor God ons bestem, het leer Romeine ons.

Mag hierdie ideale toenemend in jou en my lewe na vore tree.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae