ToekomsVenster: Vul jou lewe met God

(Foto: Diego Gutierrez/Unsplash)

Julle gees en gedagtes moet nuut word. – Efesiërs 4:23

Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie… – Kol. 3:2

Ons almal sukkel met gedagtes. Negatiewe, pessimistiese, sondige, ongelowige en selfs gedagtes wat God glad nie eer nie. Ek hoor Paulus in Romeine 7: “wie sal my verlos van hierdie liggaam van sonde en van dood”. Dan kom die antwoord helder en duidelik. “Christus”.

Ons het gister gehoor dat ons daardie slegte gedagtes “gevange” moet neem. Dit help egter nie as ons dit nie met iets anders vervang nie.

Soos in die Evangelie gaan die demoon wat uitgedryf is fort en kom terug met sewe ander, wat sterker as hy is tensy daardie huis, daardie woonplek, deur Iemand anders bewoon word.

Ons moet ons gedagtes rig op die dinge wat daarbo is, sê die teks. Dit beteken nie dat ons soos ʼn kluisenaar moet lewe nie, inteendeel. Dit beteken egter wel dat ons streef na ’n Christus gesindheid en dat ons Hom vra om ons gedagtes met Homself, sy wil en begeerte vir ons en vir die wêreld vul.

Hoor hoe mooi sê Paulus dit in sy brief aan die Filippense:

 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. – Filippense 4:8

As ons fokus op die negatiewe, die versoekings en verleidings van die wêreld, as ons begin dink soos die wêreld dink en dit uiteindelik doen, word ons slawe van dié gedagtewêreld.

Ek en jy weet wanneer ’n gedagte nie die seën van die Here wegdra nie. Laat dit doodgewoon verbygaan en gee geen herberg daaraan nie.

Bestudeer die Woord, luister na opbouende musiek, lees boeke wat inspireer, kyk na inhoud wat jou verryk, kuier waar mense sin praat, bring tyd deur met medegelowiges en vul jou lewe met God.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here dankie vir elke stuk wyse raad in U Woord ek wil dit nie net lees nie ….ek wil dit leef

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.