ToekomsVenster: Vyand of vriend van hoop


vriendskap-kinders

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Ps 88:9,10: Ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie. My oë is al dof van ellende; die hele dag deur roep ek na U, Here, en steek ek my hande in gebed na U uit.

Die valse opvatting bestaan dat Christene nie neerslagtig mag raak nie. Die Bybel weerspreek dit. Daar is baie mense in die Bybel wat hoop verloor het of op die punt was om hoop te verloor. Hulle omstandighede het so haglik geword dat hulle geen uitkoms gesien het nie. Dis ‘n troos vir mense wat hoop verloor het. Hierdie Bybelse gelowiges het net soos ons ‘n stryd gehad om kop bo water te hou.

Een van hierdie mense is die digter van Ps 88. Hy het groot pyn beleef op byna elke gebied van sy lewe. Dit klink of hy fisies siek was (88:4-6,16). Dit lyk ook of hy emosioneel swaar gekry het (88:10). Dit lyk of depressie die oorhand in sy lewe begin kry het (88:9,19). Dit het sy verhouding met God beïnvloed (88:10). Hy was visieloos (88:11-15). Voeg die digters van Ps 13, 73, 77 en die arme Job by die lysie van mense wat deur hel gegaan het as gevolg van hulle omstandighede.

Een van die hartseerste uitsprake in die Psalm is dit: ‘U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks; U laat my vriende en my bure ver van my af staan, die duisternis van die dood is my geselskap’ (88:9,19). Is dit nie verskriklik hartseer nie! Die mense wat ons in moeilike omstandighede behoort te ondersteun, staan ver van ons af. Die enigste geselskap wat ons het is die dood. Dit is al wat oorbly.

Soms is vriende natuurlik ook nie ‘n groot hulp nie. Job se vriende help hom nie, maar vergroot net die raaisel van sy lyding. Hulle glo dat dit sy eie skuld is. In plaas van mense wat hom moes ondersteun, het hulle skuld op sy skouers gelaai.

Ons taak as geloofsgemeenskap is om naby mense te wees wat besig is om hoop te verloor. Dit maak nie saak wat die oorsaak daarvan is nie. Dit maak nie saak of die persoon dit oor homself of haarself gebring het nie. Ons moet daar wees. Soms moet ons niks sê nie, nie oplossings bied nie, maar net die teenwoordigheid van God in hulle omstandighede verteenwoordig. Mag die Here jou vandag toerus om die regte woorde te gebruik sodat jy dié wat moeg is, kan moed inpraat (Jes 50:4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.