ToekomsVenster: Waar het ek die boodskap gehoor en by wie?


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

1 Korintiërs 15:3-6

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyfhonderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is, maar die meeste nou nog lewe.

Dalk het jy die boodskap van die evangelie by jou ouers in jou huis van grootword gehoor. Stories wat pa, ma of oupa en ouma vertel het van Jesus Christus wat jou aangegryp het. Ander sal weer vertel van hoe ’n pastoor, dominee of onderwyser hom / haar vertel het van Christus, dalk by die skool of ’n kamp. Vir ander was dit vriende, ’n boetie of sussie wat hulle na Christus gelei het. So weet ons dat iemand (onthou die natuur is ook iemand) ons van Christus vertel het.

Mense het my vertel van Christus, Sy liefde en genade, Sy sagte hart en oë wat nie met haat en verwyt kyk nie. Ek het die boodskap by iemand gehoor en my eie gemaak. Die tekste, die manier hoe ek die boodskap deur mense gehoor het, dring my om dit te deel. Dit borrel in my sê die liedjie…

Die interessante van hierdie gesprekke is natuurlik dat elke gesprek anders was. Anders, nie net in die sin dat elke gesprek uit twee unieke mense bestaan het nie, maar anders omdat die doel van die gesprek anders was. In een instansie was die doel om jou te vertel van God se genade. ’n Ander keer weer was dit oor Christus wat jou kan help om jou verhouding te herstel. Dan is daar ook die gesprek waar jou seerkry en nood voor Christus se voete neergesit word omdat jy seergekry het.

Ek vertrou dat jy nou begin agterkom dat God mense gebruik om vir ander mense ’n bepaalde boodskap te gee. Die meeste van ons het die boodskap van Christus deur mense ontvang en nie op ’n bonatuurlike manier nie.

Gebed:

Here, dankie vir mense in my lewe. Dankie, nie net vir hul lewe nie, maar ook dat hulle vir my gebid het. Here, hulle was die engele in my lewe. Amen

Leefwyse:

Skryf die name neer van die mense wat ’n invloed op jou lewe gehad het. Maak nou ’n lys van mense by wie jy betrokke is. Hoe dink jy kan jy ’n engel vir hulle wees?

Iets om vandag oor na te dink:

Die teks laat my dink aan ’n atletiek aflos. Ek ontvang die stokkie en ek moet die stokkie aangee na die volgende atleet. Ek het geloof ontvang, my eie gemaak en nou moet ek dit aangee. Vir wie sal jy die stokkie (geloof) wil aangee?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.