ToekomsVenster: Waar is die huis wat jy vir My sou bou?

noorder-ligte-aurora

Die Aurora Borealis of Noorderligte. Foto: Hans/Pixabay.com

So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete. Hoe moet die huis dan wees wat julle vir My bou, die plek waar Ek kan woon? – Jes. 66:1

God is groter as ons verstaan en voorstelling. As ons al ons woorde ingespan het om die grootheid van God te probeer omskryf het ons skaars begin. Hy is groter as die bladsye van die Bybel. Hy is groter as ons teologie. Hy is groter as ons definisies en dogma. Die ganse kreatuurlike werklikheid kan Hom nie akkommodeer nie. Met gepaste beeld word Hy beskryf. Hemel en aarde is ver van mekaar verwyder. Beeldryk word Hy voorgestel as Iemand wat in sy troonsaal sit en sy voete raak die aarde. Die verrassende dat Hy, die ontsagwekkende, in die harte van mense woon, by hulle intrek neem en aan hulle die ewige lewe skenk is inderdaad onverstaanbaar.

Dawid wil graag vir die Here ʼn woonplek bou. Gedurende sy ampstermyn doen hy moeite om al die boumateriaal bymekaar te maak wetende dat sy seun Salomo die taak sal onderneem en afhandel. Dawid word vir God se redes die voorreg ontsê maar put vreugde daaruit dat sy seun hierdie wens sal verwerklik. Somtyds word ons drome nie in ons leeftyd waar nie. Somtyds moet dit aan die volgende geslag oorgedra word. Dis net so merkwaardig en besonders asof ons dit self onderneem het.

Ons moet God nie inperk deur ons definisies van wie Hy is nie. God handel meermale in lyn met ons definisie. As God klein en gering is in ons oë sal dit die vrug wees wat die verhouding oplewer. As God ons denke transendeer sal ons die groter dinge beleef.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

GOD is onbepaalbaar groot, ons kan Hom nie bepaal nie. Hy is van altyd af daar, Hy saal ook tot in ewigheid daar wees. Hy is teenwoordig in ons harte en tegelykertyd anderkant die verste sterre in die heealal is Hy ook. Om te dink hierdie grote GOD is vir ons so lief, ons mag Hom maar Vader noem, Hy wil ons met liefde versorg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.