ToekomsVenster: Waar is die skulpe?

(Foto: Jannie Pelser)

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. – Matteus 11:28

“Skulpe is die uitwendige skelet van weekdiere. Dit word deur die weekdiere self van organiese materiaal gemaak en die struktuur wissel van spesie tot spesie. Die skulpe dien as beskerming, as spieraanhegtingspunt en in party gevalle ook as kamoeflering”. – Wikipedia

Miskien verbeel ek my maar, is skulpe aan die verdwyn of soek ek op die verkeerde plek? Ek onthou toe ek ʼn kind was hoe oorvloedig die skulpe was. Jy kon dit teen jou oor hou en die gedruis van die see hoor. Dit was te lekker om met die skulpe wat jy opgetel het huiswaarts te keer en te spog. Sommige skulpe het asbakkies geword, stel jouself dit voor. Ander het in die vertoon kas in die ingangsportaal van die huis ʼn plekkie gevind. Die klein skulpies het die melk “doily” afgerond.

Vandag moet jy soek om ʼn bruikbare skulp te vind.  Die wat jy optel is ʼn verbeeldinglose weergawe van die eertydse skatte.

ʼn Skulp is ʼn bedekking. Dit maak wat beskerming nodig het toe.

Ons almal “skulp” ons brose innerlike versigtig toe want, waag om eerlik te wees met jou gevoelens, is riskant. Jy weet nie wat ander daarmee gaan doen nie.

Mense mag onvriendelike dinge van jou begin sê, jou Christenskap bevraagteken en jou uit hul sirkel uitskuif.

Tog skep ons moed wanneer ons met iemand oor ons seerkry gesels en daardie persoon uit eie ervaring met ons kan identifiseer.

Die wêreld is op soek na egte mense, mense wat nie skaam is om hul gebrokenheid met ander te deel nie. Uiteraard is daar ʼn tyd en plek vir alles. Jy moet ook seker maak dat jou motivering reg is. Mense kan hul gebrokenheid misbruik as ʼn manier om ander te manipuleer. Maar egte, beskeie en opregte deel van jou eie belewenis kan bevrydend wees, nie net vir ander nie maar ook vir jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

maria ·

Dit is sowaar skulpe is nou baie skaars. Selfs die wat stukkend is is nie eens meer volop nie. en elken wat jy gebere het het ‘n storie omtrent daardie spesiale see vakansie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.